HEEL SKAAPNEK “ONTBEEN”
Moet ek dan nou vanoggend onwillekeurig aan my oorlede Pa dink. Hy het so graag die heel skaapnek met sy knipmes af geëet, sien ek hom op die stoep sit vanoggend.
Vat ‘n heel skaapnek, en laat saag hom in die lengte middel deur. Neem dan die twee stukke vleis, en maak dit gaar soos jy verkies, of in die prutpot saam met jou uie, aartappels en bietjie water, of soos ek myne gedoen het.
- 1 groot ui, gekerf
- 1 groot knoffel toontjie gekap
- 1 skaapnek, in die lengte gesny
- 1 blikkie bier
- 2 aartappels, in blokkies gesny
- 2 groot wortels, in ringe gesny
- kruie en speserye, na smaak
Braai die uie en knoffel in ‘n groot ysterpot tot die uie deurskynend is, sit die nekke by, braai lekker bruin in die ysterpot.
Sit vetkant onder dat dit lekker bruin braai.
Giet die blikkie bier by asook die aartappels, wortels en kruie en speserye na smaak.
Sit die deksel op en plaas die pot in die oond teen 160 ºC tot die vleis heerlik sag is en al die groente gaar is.
Dit neem ongeveer 3 ure in die oond.
Haal die nekke uit. As jy die vetjie bietjie wil uitbraai, sit hulle onder die oond rooster tot hulle lekker uitgebraai het, pasop vir brand. Laat die vleis redelik afkoel, en trek die hele been en sening uit.
Verdik die sous wat in die pot is met bietjie Bisto of “oxtail” soppoeier wat met bietjie water aangemaak is. Laat goed deurkook.
Wanneer die nekke koud is, sny dit soos ‘n rol in heerlike dun skyfies en bedien saam met rys, die groente en van die sous.
Nota:
Regtig heerlik, die vleis is net so lekker op ‘n toebroodjie.
Mens kan nie glo hoeveel vleis is aan die nek nie, dit kan maklike 4 goeie porsies bedien.
Foto en resep: Rina Kleinhans
2de Foto: Ansi Pypers Fourie – in die prutpot gedoen, bene op die kant gesit… heerlik verby.













