HANDESKROP VIR GESKENKE
Dit is heerlik en ideaal vir geskenke, ek het die resep ook vir julle effens groter gemaak, en die vergrote resep maak 10 van die botteltjies op die foto vol. Ek skat dit is so 5 keer se skrop wat in hierdie botteltjies ingaan. Geniet dit. Verpak in mooi bottels ek het net hierdie gehad.
Meng dit sommer van bestanddele wat jy in die kombuis het. Gebruik binne 14 dae, anders hou dit in die yskas en dan kan jy dit langer geniet. Indien dit te koud en styf is, sit die houertjie net ‘n rukkie in kookwater en voila. Dit laat ‘n lagie op die vel wat dan heelik sag op die vel voel.
- KLEINMAAT HANDESKROP
- ¼ koppie bruinsuiker
- 1 teelepel fyn kaneel
- ¼ teelepel vanilla geursel
- 1 ½ eetlepels klapperolie
- GROOTMAAT HANDESKROP
- 2 koppies bruinsuiker
- 8 teelepels fyn kaneel
- 2 teelepels vanilla geursel
- 180 ml klapperolie
Meng al die bestanddele saam in ‘n mengbak, dit sal lyk soos nat sand. Skep in ‘n lugdigte houer om te bewaar. Maak jou hande nat, neem ‘n hoogvol teelepel van die skrop en vryf jou hande ongeveer 20 sekondes. Spoel jou hande af onder lekker warm water en laat dit natuurlik droog word, anders vee mens al die lekker olie weer af.
Geniet!
Resep aangepas en foto’s: Rina Kleinhans