GUAVADILLAKONFYT
- 20 groot guavadillas
- 800 g suiker
- 6 teelepels suurlemoensap
Was en halveer guavadillas. Skep pitte uit en hou eenkant.
Sit skille in pot, bedek met water en kook tot binnekante sag, so 60 minute. Dreineer en laat afkoel. Skep die sagte binnekante uit. Raak ontslae van die buitenste skille.
Maak binnekantse uitgeskepte vleis in voedselverwerker fyn tot glad. Ek voeg bietjie van die pittemoes by, omdat dit dan makliker ‘n gladder pasta word.
Voeg hierdie pasta met al die pitte en die suiker in ‘n pot.
As jy nie van so baie pitte hou nie, kan jy die moes deur ‘n sif giet en net die sous by giet en as jy wil, net ‘n paar pitte by jou sous voeg. Ons hou van die pitte, dus behou ek almal.
Roer oor lae hitte, tot suiker opgelos is.
Voeg suurlemoensap by en verhoog hitte. Ek vee binnekant van pot met ‘n nat kwas om enige suiker wat daar vassit af te was. Dan smeer ek die wand met ‘n bietjie botter.
Kook tot reg. Roer gereeld. Ek het hierdie kooksel 35 minute gekook. Toets op koue piering of gereed.
Verwyder van hitte af en skep in gesteriliseerde bottels, seël dadelik. Laat onderstebo afkoel.
Resep en foto: Petra Venter