GRONDBOONTJIEBOTTER KOFFIEBEKER BROOD
Ek sien gister hierdie resep op facebook, en my nuuskierigheid kry die oorhand. Ek probeer dit toe en sowaar daar is dit die lekkerste ou broodjie as jy nie mag brood eet nie, en tog lus het vir iets by jou sop, of net ‘n vinnige happie. Hy moet dadelik geëet word, dan is hy heerlik.
Toets maar met jou eie mikrogolf, ek het die eerste een gedoen soos die resep sê – 2 min, maar toe probeer ek die volgende een op 1 min 50 sekondes en hy was vir my lekkerder.
Hoop julle gaan hom probeer, dit is die resep van Anel Fourie soos gepos op facebook.
- 1 eetlepel grondboontjiebotter
- 1 eier
- 1 teelepel bakpoeier
Nota:
Ek het die grondboontjiebotter net so effens warm gemaak dat dit makliker meng met die eier.
Meng die bestanddele saam sommer in die beker, maak seker al die grondboontjiebotter lê nie onder in die beker nie. Klits hom sommer lekker. Bak in die mikrogolf op vol sterkte vir 2 minute.
Hy rys bo die beker uit, maar sak weer mooi terug, so moenie stress en die oond oopmaak nie.
Geniet hom as julle hom probeer, ek dink mens kan bietjie rondspeel ook met hom.
Resep: Anel Fourie
Resep getoets en foto’s Rina Kleinhans
Nota: Dossie Dednam
Voeg 1 teelepel mayonnaise by dan is dit nog lekkerder- minder droog.
Ek gebruik nader aan ⅓ teelepel bakpoeier.