GROENTE ROERBRAAISOUS
Met ‘n man wat groot geword het met die eetgoed van die weskus, is daar partykeer goete wat ek nie saam eet nie. So iewers laas week, maak ek toe maar vir my ‘n oormaat groente en vind toe hierdie heerlike stirfry sousie – was dit omtrent ‘n heerlik ete vir een!
- 1 klein pakkie gevriesde roerbraai groente
- 1 teelepel knoffel (wat in die potjie met olie is)
- amper 1 teelepel fyn gemmer, na smaak
- olie/botter om in te braai
- Sous:
- ¼ – 1 koppie hoenderaftreksel
- ½ teelepel Maizena
- 3 eetlepels sojasous
- 2 eetlepels heuning
Maak bietjie olie warm in ‘n pot/wok.
Voeg die groente by en roerbraai vir omtrent 3 minute of tot dit krakerig is.
Voeg die knoffel en gemmer by en kook net deur.
Maak die sous deur al die bestanddele bymekaar te voeg in ‘n kleinerige bak.
Ek het ‘n halwe blokkie aftreksel geneem en met ‘n koppie warm water aangemaak.
Meng daarna al die ander bestanddele goed by.
Gebruik soveel as wat jy dink reg is vir jou, ek hou van ‘n souserigheid, veral as mens dit op ‘n pasta of rys skep.
Giet die sous oor en roer deur.
Het hier sommer net 2 opgesnyde viennas bygevoeg. Jy kan enige stukkies gaar vleis van jou keuse byvoeg.
Draai die hitte laer, en braai nog so 3 – 4 minute. Roer kort-kort deur.
Geniet!
Resep en foto: Stien Rust