Your Recipe Blog

GROENTE PIEKELSLAAI

GROENTE PIEKELSLAAI

Ek deel die een resep wat ek gekry het, met my aanpassings daarvan.
Die oorspronklike resep is van Jacques Marianne Van Niekerk, maar ek het dit bietjie aangepas.
Die resep gee nie hoeveelhede groente aan nie en die sous is net genoeg vir ’n kleinerige bottel. Pas dus jou sous aan vir die hoeveelheid groente wat jy gebruik en ook die grootte van jou bottels.
  • Sny in skyfies, pak stewig in voorbereide fles:
  • uie
  • radyse
  • soetrissies (groen of rooi of geel of al drie kleure)
  • komkommer
  • dun skyfies wortel
  • lekker groot knoffelhuisie
  • Piekel:
  • 1 koppie asyn
  • 1 koppie suiker
  • 1 teelepel sout
  • paar swart peperkorrels
  • 1 teelepel piekelspeserye

Bring die piekelbestanddele tot kookpunt en roer tot suiker gesmelt het.
Giet bo-oor groente in fles en maak seker al die lugborrels is uit. Bêre in yskas.

Nota:
Die resep sê nie hoe lank dit in die yskas moet/kan bly nie. Ek sou dit ’n paar dae laat, voordat dit as slaai gebruik word, dat dit darem so bietjie kan “piekel”.
Ek maak ook piekel groente of piekel uitjies deur die mengsel asyn en suiker en speserye te laat kook, die groente (stywe groente soos: blomkoolblommetjies, groen rissie, heel piekeluitjies, halwe groenbone en wortel skyfies, knoffel en rissie), in die kokende stroop te plaas en wanneer die asynmengsel weer begin kook, bottel ek die piekels warm.
Dan laat ek dit ’n paar weke in die kas staan, voordat dit gebruik word.
Vir my piekel groente wat ek warm bottel, gebruik ek die helfte minder suiker.
Spaarsamige vrou wat ek is, bêre ek gekoopte agurkies se sous in die yskas as die agurkies op is. Die sous het reeds speserye in en dit maak lekker slaaisous. Ek gebruik die sous ook om piekel groente te maak. Om dit minder suur te maak, sit ek op 2 koppies van die sous so ’n halwe koppie suiker by en laat dit kook en bottel die piekels warm.
Suiker kan aangepas word na gelang van smaak – soeter of suurder.

Oorspronklike resep deur Jacques Marianne Van Niekerk, aangepas deur Ragiela Cloete
Foto:  Ragiela Cloete

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page