GROENTE, HAM- EN NOEDELBONDELS
Wie sou gedink het dat 2-minute noedels so veeldoelig kan wees. Ek het die resep op die internet raakgeloop, aangepas en gebak.
Ek het botterskorsie grof gerasper, ui en broccoli fyngekap vir my groente. Ek het ook karringmelk in plaas van suurroom gebruik. Ek dink hier kan jy speel met wat jy ookal in die yskas het.
- 1 pakkie 2 minute noedels
- 3 koppies gerasperde gemengde groente
- 2 eiers
- ½ koppie suurroom of karringmelk
- ½ koppie gekapte ham
- ½ koppie gerasperde kaas
- sout en peper na smaak
Voorverhit oond tot 180ºC.
Smeer ‘n muffinpan met olie, botter of “Spray and Cook”
Kook die noedels volgens instruksies (hou geursout), spoel die noedels af in koue water en plaas in ‘n groot bak.
Voeg nou die pakkie geursout van die noedels by. Voeg ook bietjie sout en peper na smaak by (indien verlang).
Meng gerasperde groente, ham en kaas deur die noedels.
Voeg eiers en karringmelk by en roer met ‘n vurk totdat alles gemeng is.
Skep die pan se gaatjies lekker propvol.
Bak vir sowat 35 – 40 minute.
Laat staan vir so 10 min sodat die eiermengsel mooi kan stol.
Nota:
Resep lewer 6 reuse bondels of jy kan 12 medium bondels maak.
Heerlik vir ‘n ligte ete of pak dit môre oggend in die kosblikke.
Resep en foto : Bernadene Prinsloo