GRANAATJELLIE ALA MADZ
Dit het verlede keer gebeur daarom die soektog na die perfekte resep.
Ek het die tannie Google se resep aangepas by my omstandighede. Daarom die ala Madz style.
Hierdie resep is nogals tydrowend en dit het 3 stappe.
PEKTIEN
- 6 groen suur appels
Sny alles op in stukke, plaas in dikboom kastrol en bedek met water.
Kook stadig tot al die vrugte stukke sag is en maklik fyn druk.
Skep die groot stukke uit in ‘n groentesif en dreineer.
Dreineer dan al die vloeistof deur ’n kaasdoek.
Die sap behoort 700 ml te wees.
Vul die vloeistof met kookwater aan tot by 1 liter sodat die afmeting vir die jellie makliker is.
GRANAATSAP
- 6 groot granate, ontpit
Plaas al die pitte in ‘n dikboom kastrol en bedek met water.
Kook die pitte stadig sodat al die pulp kan afkook. Ongeveer 20 minute.
Druk die pulp fyner met ‘n aartappeldrukker (masher) en dreineer deur ‘n kaasdoek.
Die sap behoort 800 ml te wees. Vul sap aan met kookwater tot 1 liter.
JELLIE
- 2 liter vrugtesap aftreksel
- 1.440 kg suiker
- 120 ml suurlemoensap
Plaas altwee die vrugtesap aftreksels in ‘n dikboom kastrol. Dit is 2 liter altesaam.
Voeg die suiker en suurlemoensap by.
Roer totdat die suiker opgelos is voor dit begin kook.
Kook oor lae hitte sonder om te roer. Dit kry baie vinnig ‘n brand smaak en die kleur verander baie gou te donker.
Hou die spulletjie baie goed dop want dit kan dik skuim maak en oorkook maar haal dit eerder bietjie van die hitte af en roer net die skuim om dit op te breek. Ek het gelees dit is om te voorkom dat die gel proses nie opbreek nie.
Plaas terug op die hitte en kook tot by 105 °C want dit is gelpunt volgens google. Hierdie is ook op seevlak se temperatuur. Ek kan ongelukkig nie vir julle sê wat die temperatuur binnelands is nie.
Hiervoor sal julle die gel toets moet doen om te sien wanneer dit stol. Ek het maar op geloof gegaan en die temperatuur geneem.
My proses het baie stadig gekook, want ek het ‘n ou stoof plaat op my gasstoof se brander gesit sodat daar nie sulke direkte vuur op die kastrol is nie. Dit het glad nie dik skuimende oorkokende borrels veroorsaak nie. Die ou stoofplaat werk baie goed.
Moet nie roer nie al wil jy.
Wanneer die temperatuur 105°C bereik het, haal dit onmiddelik van die hitte af en skep in gesterliseërde bottels.
My resep het ongeveer 1,750 liter jellie gelewer.
Wala. Lekker kook in Madz Style.
Groete Madz Hondeklipbaai
Resep en fotos: Madeleine Baumgarten