GIDEON SE TUISGEMAAKTE SUSHI
En so na ‘n lang gesukkel om die tools in die hande te kry, maak ek toe my sushi onder die wakende oog van Liezl.
- 1 koppie sushi rys, rou
- 2 eetlepels suiker
- 2 eetlepels rysasyn
- norrie velletjies
- repies komkommer
- repies avokado
- rou salm
- wasabie
- gepiekelde gemmer
Kook die sushi rys soos op die pakkie aangedui. Is baie maklik.
Meng dan die suiker met die rysasyn en verhit tot suiker opgelos is.
Meng die rys met die asynmengsel liggies deur.
Plaas op jou sushi mat ‘n stukkie plastiek groter as die matjie.
Bo-op dit ‘n velletjie norrie met die growwe kant na bo gevolg met ‘n lagie rys tot op die rante van die norrie met net een rant 10 mm oop van die kant af. Dit is die kant waarnatoe jy die rol gaan rol.
Plaas op die rys aan die begin kant van die rys een of twee repies komkommer asook repies avokado en ook mooitjies rou salm oor die wydte van die matjie.
Smeer die 10 mm strokie met water en begin rol die plastiek en die matjie saam op sonder om die punt van die matjie onder jou rol in te laat gaan.
Aan die einde druk dit met matjie en al lekker styf aanmekaar terwyl jy dit in die rondte draai om dit mooi rond en kompak te kry, sprinkel oor sommige stukkies ook ‘n bietjie kaviaar.
Bedien dit saam met wasabie en gepiekelde gemmer en ook sojasous en siedaar.
Nou moet ek nog net daai stokkies bemeester, tot tyd en wyl gebruik ek maar my vingers of ‘n vurk vir in die openbaar.
Moet sê dit was djeeerlik!
Resep en foto: Gideon Louw


