GIDEON SE SULT (BRAWN)
Ek het gister die sult oftewel brawn gemaak en oornag laat afkoel en dit is heerlik.
- 1 kg skoongemaakte varkskenkels
- 1 aartappel, geskil en in klein blokkies gesny
- 1 ui, geskil en fyngekerf
- 2 eetlepels appelkooskonfyt
- 1 ½ eetlepels “mild and spicy” kerriepoeier
- 1 eetlepel borrie
- 1 teelepel gemaalde swart peper
- 1 teelepel brandrissievlokkies
- ¼ koppie bruinasyn
- 4 opgebreekte naeltjies
- ½ eetlepel Maizena, opgelos in ‘n klein bietjie water
- 2 lourier blare
- 2 eetlepels suiker
- 1 teelepel sout of na smaak
Plaas die ui en aartappels saam met die vleis in ‘n groot genoeg kastrol en bedek dit met water.
Kook die skenkels op lae hitte (ek het my stoof se plaat op 1 gestel) vir omtrent 2 ure tot die vleis afkom van die bene af en laat dit afkoel.
Haal die bene almal uit en knip of sny die vleis in klein stukkies.
Voeg al die ander bestanddele by en kook vir omtrent nog 90 minute.
Giet die warm mengsel in silikoon pannetjies wat op ‘n oondplaat geplaas is en laat afkoel. Hou in die yskas oornag.
Dit dop maklik uit as dit gestol is.
Nota:
Kook die vleis op lae hitte sodat die lymerigheid van die skenkels nie verlore raak nie.
Die sult is djeeeeerlik.
Alternatief:
Ek het weer die varkskenkelsult gemaak. Hierdie keer die aartappels uitgelaat en op 2 kg skenkelvleis, 300 g skoon spekvleis en ook 1 eetlepel knoffelvlokkies en “Italian Herbs” bygevoeg.
Resep en foto : Gideon Louw