GIDEON SE ROOIPANNETJIE PANNEKOEK
Dis pannekoek weer en ons het die sommer in my rooipannetjie oppie kole gemaak.
- 1 koppie koekmeel
- 1 teelepel bakpoeier
- ½ teelepel sout
- 1½ koppie water
- 1 teelepel suurlemoensap
- 1 geklitste eier
- 1 teelepel olie of gesmelte botter
Sif die droë bestanddele saam en voeg die olie by.
Meng die water, eier en suurlemoensap en voeg dit by die droë mengsel.
Klits goed tot dit ‘n gladde beslag is.
Verhit ‘n bietjie olie in ‘n braaipan.
Skep genoeg beslag om die bodem van die pan te kan bedek.
Ons gebruik die swart soplepel.
Bak tot ligbruin aan beide kante.
Ek is nou al so gekonfyt dat ek hulle sommer met die pan flip.
Die resep het ons verdubbel en dan 12 pannekoeke gemaak.
Plaas twee pannekoeke op mekaar en plaas jou eie gaargemaakte vleis van jou keuse aan die een kant van die pannekoeke en rol dit toe.
Saam met dit het ons ‘n witsous gemaak om oor die opgerolde pannekoeke te skep.
Dit is heeeeeerlik.
- Witsous:
- 2½ koppies melk
- 1 eetlepel botter
- 1 eetlepel hoogvol koekmeel
- peper, brandrissievlokkies, sout, Italiaanse kruie, knoffelflokkies, na smaak
Verhit die botter saam met 2 koppies melk in mikrogolfoond.
Intussen meng die meel en die halwe koppie melk deur dit te klits sodat dit ‘n gladde tekstuur het.
Voeg nou ‘n bietjie van die warm melkmengsel by die meelmengsel en meng.
Voeg nou alles saam en verhit die mengsel in die mikrogolfoond en met een minuut intervalle word dit geroer tot die mengsel gaar en verdik het.
Geur die sous na smaak.
Resep en foto: Gideon Louw