GIDEON SE KERRIE SNOEKKOPSOP
Dit is winter… die blinklywe is volop en die koppe is amper verniet of saam met die koop toe… Ek het die koppe saam geflans tot ‘n absolute lekkerte.
As ‘n mens begin om ‘n sop te kook dan loop jy mos ‘n pad saam met daai sop en jy proe hom reg tot hy is soos jou tong vir jou sê.
Ek het hierdie bedryf begin skilder om te weet waar en met wat ek gaan eindig.
So dit is in der waarheid ‘n unieke sop wat vir Gideon Louw gebou is… en net so glo ek doen julle ook met jul soppe. Proe deurentyd en modify en adjust tot hy jou sop is.
Dit gaan daaroor dat ek ‘n pad van 3 tot 4 ure saam met hierdie pot sop geloop het en dit gemaak het vir my tong en my oog. Ek eet mos tog met my oë ook of hoe? Nou hier is die basics van myyyyyy sop.
- 4 snoekkoppe
- 3 aartappels, geskil en gerasper
- 2 uie, geskil en gerasper
- 3 wortels, geskil en gerasper
- 1 koppie vol gekerfde seldery
- 1 eetlepel rissievlokkies
- 1 eetlepel gekneusde knoffel
- 1 eetlepel Italiaanse kruie
- 1 eetlepel sout
- 1 eetlepel medium kerriepoeier (ek het mild and spicy gebruik)
- 3 teelepels witpeper
- 1 eetlepel Aromat
- ½ koppie Worchestersous
- 1 suurlemoen se skil, gerasper asook die sap
- 1 pakkie sampioen soppoeier gemeng met ‘n bietjie water
- 1 liter water
Nou die is vir my saam met die pad wat ek gestap het en dit was djeeeerlik.
Plaas die koppe in ‘n groot kastrol en bedek met min of meer 2 liter water. Kook vir plus minus 10 minute.
Laat afkoel en verwyder alle grate, bene en ongewenste stukkies.
Voeg die 1 liter water by.
Voeg alle gerasperde groentes by en bring tot kookpunt.
Voeg alle ander bestanddele en speserye by behalwe die soppoeier.
Kook verder vir ‘n verdere 2 ure.
Voeg die soppoeiermengsel by en kook vir nog ‘n uur.
Vroulief het kroetonne gemaak en dit was die tjerrie oppie sop. Hmmmmmm.
Djeeeeeeeerlik.
Resep en foto: Gideon Louw