GEVULDE PITA MET HOENDER EN GROENTE
- 1 tot 3 pitas per persoon (hang af van grote van pita)
- 4 hoenderborsies, in stukke gesny
- 2 eiervrugte, in ringe gesny
- 1 ui, in repies gesny
- 1 groot zuchini, in repe gesny
- 2 rooi paprikas, in repe gesny (soetrissies)
- 4 eetlepels olyf olie
- 5 ml van elk van die volgende fyn speserye: komyn, koriander, paprika, borrie, oregano
- 5 ml sout
- 2,5 ml elk van: rissievlokkies, kaneel, grof gemaalde swartpeper
- 1 stuk vars gemmer (duim grote), geskil en fyn gerasper
- 2 groot huisies knoffel, fyn gerasper
- Hummus
- Tzatziki
- Sonneblomolie om in te braai
- sout en peper vir groente
Meng die olyf olie, speserye, kruie, gemmer, knoffel en sout. Sit die hoender by, meng en marineer vir 30 minute.
Verf die eiervrug aan albei kante met sonneblomolie. Braai dit in sarsies in ‘n pan op matige hitte (ongeveer 3 minute aan ‘n kant). Plaas op kombuispapier om uit te lek.
Braai die paprika, ui en zuchini in sonneblomolie (geur met sout en peper) tot gaar en skep uit in ‘n bak.
Braai die hoender in sarsies op hoë hitte in ‘n pan tot goud bruin en gaar en skep elke sarsie by die groente. Meng.
Maak jou pitas warm volgens die instruksies op die pakkie. Sny dit op die rand halfpad oop.
Smeer hummus aan die een kant binne-in die pita en tzatziki aan die ander kant.
Plaas 2 of 3 stukke eiervrug in en vul met hoender en groente.
Lekker eet!
Resep en foto: Anchen Kobus