GEVULDE EIERS PEUSELBORD
“Eerste feestelike platter vir die jaar… Biologie departement se laaste “morning tea” vir 2020! My liefste ma het toe ek klein was, vir elke familie kuier twee southappies gemaak… gevulde eiers, en ham, gesmeer met mayonnaise en met ‘n blikkie aspersie daarin toegerol. Ek hou nogsteeds baie van beide, maar het hulle net bietjie gemoderniseer. Maak nie saak wat en hoe jy eet nie, hierdie is heerlik…! Maar dit is keto, “low carb” en diabeet vriendelik.”
- Gevulde eiers:
- 6 eiers, hardgekook
- 3 eetlepels mayonnaise
- 2 eetlepels suurroom
- 2 teelepels geelmosterd
- 2 teelepels grasuie, fyngekap
- 2 teelepels pietersielie, fyngekap
- sout en peper, na smaak
- Ham en geroosterde aspersierolletjies:
- 2 bossies aspersies
- 2 eetlepels olyfolie
- sout en peper, na smaak
- 10 – 12 skywe ham
- 10 – 12 teelepels roomkaas (geur eie keuse)
Gevulde eiers:
Sny eiers in helfte deur. Haal gele versigtig uit, en plaas saam met res van die bestanddele in bak. Druk goed fyn met ‘n vurk. Vul elke holte met een teelepel vulsel of na smaak.
Ham en geroosterde aspersierolletjies:
Plaas aspersies (harde dele afgesny) op gespuite bakplaat. Prinkel olie, sout en peper bo-oor, meng goed en rooster by 200 °C vir 20 – 25 minute tot goudbruin.
Smeer elke skyf ham in die middel met roomkaas en suurroom. Laat aspersies afkoel, en plaas 2 – 3 stele op elke skyf ham. Rol op.
Pak beide happies op ‘n opdienbord en sit voor.
Resep en foto: Ilze Jacobs