GEVRIESDE ETES – IDEES VIR STUDENTE
Annatjie Henning:
Ek benodig oulike idees vir kos wat goed vries en lekker is vir ‘n student met net ‘n mikrogolf om die kos warm te maak. Sy is nou al moeg vir pasta, breyani, pasteie, quiches en “two minute noodles”.
Louise Eybers:
Ek maak vir my seun wraps, vul met vleis van jou keuse, bietjie kaas, witsous of mayonnaise. Vries baie lekker en vinnig om warm te maak.
Groente kan jy boontjies met aartappels, uie en room gaar vries, spinasie wat reeds gaar is, pampoentert is ook ‘n wenner.
Doné Marsh:
Groot bak gaar lasagne, oornag in yskas en dit dan in porsies uitskep en vries, ook maklik vir warm maak.
Riette Perold:
Bobotie, gaar fyn hoenderborsies vir hoendermayo, piesang- en dadelbroodjies, frikkadelletjies, “stirfry” groente met steak of hoenderrepies klaar gaar met rys, gevries en dan die pakkie soetsuur sous aangemaak bo-oor, wanneer die student dit warm maak.
Beinadean Plaatjies:
Wat van ‘n “airfryer”? Ek dink dis baie gemaklik vir ‘n student om te hê. Kan hoender, vis, pizzas of skyfies daarin gaar maak.
Gerty Corbitt:
Hoender schnitzel, gekrummelde hoenderrepies, gevriesde pasteitjies ens. Die lys is legio vir ‘n lugbraaier.
Susan Jordaan:
Herderspastei met enige groente daarby.
Louise Prinsloo:
Ek maak gewone kookkos elke aand en vries dan vir my seun ‘n porsie vir werk. Ek vries letterlik enige iets. Pap, sous en wors / tjoppie, vleis met groente, steakgeregte, alles behalwe aartappels, wel kapokaartappel saam met souserige kos vries goed. Rys met hoender a la king, goulash, skaapboud, varkboud, soos ek sê, wat ek ookal vanaand maak, vries ek van dit in porsies.
Ina van Heerden:
Nie gevriesde kos nie maar die blikkies kerriemaalvleis met groente. Jy maak dit letterlik net warm en eet saam met pap, rys, pasta, broodjie, rolletjie of wat ookal jou keuse. Dis regtig lekker en niks soja smaak nie.
Lenie van Rooyen:
Lekker gevulde tuisgemaakte vetkoeke, vul dit met fyn hoender, gemengde groente of maalvleis en groente. Dit vries baie goed en dan gou gou in die mikrogolf, veral in die winter saam met ‘n koppie sop. Ek voeg eiers in die deeg dan word dit nie suur soos gekoopte deeg nie en trek ook nie olie wanneer jy dit bak nie.
VETKOEK MET EIER
- 4 koppies koekmeel
- 2 eiers
- 1 pakkie kitsgis
- 2 eetlepels olie
- sout
- ± 1 ⅓ koppie lou water
Meng al die bestanddele in ‘n mengbak en knie met die lou water tot die deeg nie meer aan jou hande vassit nie. Bedek die deeg en plaas dit eenkant om te rys. Knie die deeg af en laat dit weer rys. Bak bolle deeg in warm olie (nie te warm) tot gaar.
Dina Koen:
Jy kan enige mieliepap vries in klein pakkies. Maak warm in mikrogolf.
Marina Raath Coetzee:
Ek maak vir my kind jaffels en ook muffins, amper enige oorskiet kos word “mammapakkies”.
Renee Haasbroek:
Moenie tamatie in die vleisjaffel insit nie, sy kan wanneer sy dit ontvries sommer n tamatie byvoeg of tamatiesous. Elke ou se keuse, maar die tamatie proe nie vir my lekker wanneer dit ontdooi het nie.
Marinda Cilliers:
Bobotie jaffels is heerlik.
Ouma Love:
Wat van ‘n paar ingelegde slaaie soos kerrie-uie, koperpennie wortel, beet en noedelslaai vir saam met vleis of vleisrolletjies.
Marietjie Christie Kotze:
Kerrie en rys.
Anchen Kobus:
Burritos met verskillende vulsels, enchiladas, botterhoender.
Louise Van Wyk:
Warm rysslaai vries goed, ook souttert wat in blokke gesny is.
Jaap Rothmann:
‘n Groot quiche in ses snye, afgewissel met ander kos, hou vir my ‘n paar aande, dit vries goed.
Nicolaas van der Westhuizen:
Viskoekies vries en ontvries baie goed.
Lorraine Weitz Brand:
Maak ‘n groot kooksel pastasous en vries dit in kleiner bakkies. Sy kan net pasta ontvries warm maak en ontvriesde sous byvoeg en wwer opwarm. My kinders se redding gewees.
SALSA DI POMODORO / TAMATIESOUS VIR PASTA
Die sous is genoeg vir 1 pak pasta.
- 1 ui, gekerf
- 1 groterige knoffeltoontjie, opgekap (jy kan minder ook gebruik as jy wil)
- bietjie olie
- 1 blik heel tamaties (koop net ‘n goeie maak, die blou blikkie by bekende vrugte- en groentewinkel)
- 1 blik tamatie- en uiesmoor
- 1 blikkie tamatiepasta (125 g)
- handvol vars basillie
- 1 teelepel Italiaanse kruie, gedroog
- sout en peper
Braai die uie en knoffel in ‘n pan met olie.
Voeg die blikkies tamaties en tamatiepasta by.
Sny of breek die basilliekruid in klein stukkies en voeg by die tamatiemengsel.
Voeg die kruie, sout en peper by en roer deur.
Moenie water byvoeg nie, die tamaties het genoeg vloeistof.
Kook die sous vir ‘n halfuur op lae hitte. (Ek is gewoonlik haastig, 10 – 15 min werk vir my net so goed).
Druk die hele gedoente met ‘n aartappeldrukker fyn. Ek hou nogal daarvan as dit nie puree-fyn is nie.
Bedien warm met pasta. Moenie die pasta afspoel nie, dit help dat die sous aan die pasta vassit.
Strooi vars gerasperde Pecorino, Parmesan of kaas van jou keuse oor.
Lekker eet!
Leonie Odendaal:
Vervang aartappels met patats, dit vries beter.
Maalvleis en groente werk baie goed, kerrie of ander geurmiddels of met lekker tamatie en uie in.
Kerriehoender met baie sous en bietjie groente by, vries goed.
Hoender met ‘n sous van bruin uiesop, mayonnaise en blatjang vries goed.
Ek stoom ‘n mengsel van wild en beesvleis, verwyder die bene en maak rafelvleis. Kook dit soos potjiekos, dan kry elke pakkie ‘n bietjie vleis, ‘n wortel, ‘n stukkie patat en ‘n stukkie kool in, sorg vir genoeg sous.
Pampoentert in blokkies gesny en fyngerasperde wortelslaai vries ook goed.
Kook tamatie- en uiesous, bottel en die student kan dit saam met enige kos gebruik.
Brood, pasta of vetkoek vries baie goed.
Ek vries alles in bakkies en pak dit dan oor in sakkies as dit hard gevries is. Dit pak makliker in die vrieskas.
Gerasperde kaas, muffins met droë vrugte of semels in, eierbrood, gaar wors, gaar varktjoppies, koue vleis en gaar hamburger patties vries goed.
Meeste groente vries baie goed in klein porsies. Moet ook nie van ingemaakte kerriebone, kerrie beetblatjang en koperpennie wortels vergeet nie.
Die pakkies poeier-aartappels wat aangemaak word met bietjie melk en margarien werk goed.
Ek doen hierdie al vanaf 2018 vir my kind se vrieskas, dit werk goed. Ek moet natuurlik bysê dat ek vir ‘n seun kosmaak, meisies se spyskaart kan dalk bietjie verskil, mens leer maar soos jy aangaan. Gelukkig doen hy nou al die meeste self. Sterkte.
Miemsie De Klerk:
‘n Blik maaltydvervanger is ook iets om aan te dink vir die dae wat tyd te min is vir kosmaak, dan kan dit net vinnig aangemaak en gesluk word vir ‘n ete.
Renee Haasbroek:
Klaar gaar dun wors, los gevries en dan 6 in ‘n sakkie verpak. Ontdooi in yskas deur die dag, vanaand rol jy ‘n sny brood plat met ‘n koekroller of bottel, smeer enige sous en dun kaas of gerasperdie kaas op, kaas word koppiegewys, plat in ‘n sakke gevries, dit ontdooi vinniger en vat minder spasie.
Enige gaar broodjies klaar gesny en gevries, langs mekaar, dat dit nie vassit aanmekaar nie en smeer net na ontdooi margarien op.
Nicky Brecher:
Boontjiebredie, gevulde pannekoek, stroganoff, saggekookte kookvleis, frikadelle.
Leon Sonja de Beer:
Tamatiebredie, beesbredie, viskoekies met kapokaartappel met lekker soetgroente by.
Jy kry by die verpakkingplekke die bakkies met drie afskortings om die groente ook in te werk by hulle etes en jy kan dit was en hergebruik.
Greg Smith:
Pannekoeke vries goed, sit bakpapier tussen elke pannekoek voor vries. Vries verskillende vulsels in pakkies wat sy dan warm maak. Ontdooi 1 of 2 pannekoeke, warm dit op in mikrogolf, vul die pannekoek met ‘n vulsel van keuse, rol die pannekoek op en verhit weer.
Die vakuum verseelde kaassouse werk goed vir ‘n pannekoek met maalvleis en kaassous.
Gee ‘n bakkie kaneelsuiker saam vir pannekoek met kaneelsuiker as poeding.
Gevriesde muffins, plaatkoek wat opgesny is, klein sjokolade- of malvapoedings vir iets soets.
Sy moet met maats saamgooi, dan bring elke pel ‘n gereg waarop hulle besluit, maak die kos warm op ‘n dag en deel. So eet hulle byvoorbeeld elke Sondag ‘n groot tuisgemaakte bord kos.
Wenk en foto: Petro Borchard
Wanneer ek maalvleis, kerrie of stowevleis maak, doen ek dit in tot 5 kg hoeveelhede. Dit neem ewe veel tyd en moeite as om een ete op ‘n slag te maak. En jy het net een keer se skottelgoed. Vries dit in porsies wat daarna, ontdooi opgewarm word.