GESTOOFDE KERSIELIKEURPERE
Ek het vandag hierdie pere as nagereg gemaak. Die resep kom aanvanklik van Elizabeth Randell Swart. ‘n Vriend het weer vir my sy weergawe met rooiwyn gegee. Ek het my sous nie met wyn gemaak nie, maar het ‘n bottel kersielikeur gebruik.
- 2 koppies water
- 1 koppie suiker
- 7 heel naeltjies
- 5 steranys
- paar druppels rooi voedselkleursel
- 750 ml kersielikeur (24 % alkohol)
- 7 vars pere, geskil
Plaas die water in ‘n kastrol op die stoof en verhit tot kookpunt, voeg die suiker, naeltjies, steranys, voedselkleursel en likeur by en roer tot die suiker opgelos is.
Plaas die geskilde pere in die sous, maak seker die pere is bedek met die sous en kook tot die pere sag is volgens eie voorkeur, maar nie pap nie.
Verwyder die pot van die hitte en laat heeltemal afkoel.
Plaas die pot met die pere oornag in die yskas.
Sit ‘n deksel of iets op die pere sodat hulle onder die stroop bly om die kleur te verbeter.
Nota:
Dit is ‘n ongelooflike mooi, goedkoop en ‘n vreeslike lekker nagereg.
Bedien saam met roomys of soos verkies.
Die sous wat oorbly, kan gevries word en weer saam met roomys bedien word, hou ook goed in die yskas.
Resep en foto: Frans van Rensburg