GESMOORDE LAMSKENKELS MET TAMATIE KRUIESOUS
- 4 heel lamskenkels
- 4 eetlepels olyfolie
- 2 medium uie, fyngekap
- 3 knoffelvingertjies, gerasper
- 2 wortel, in blokkies gesny
- 2 medium aartappels halveer of hoeveelheid na smaak
- ½ rooi soetrissie, in blokkies gesny
- 2 koppies beesvleis aftreksel (2 blokkies opgelos in kookwater)
- 1 blikkie tamaties, in blokkies gesny
- 2 eetlepels tamatiepasta
- 2 eetlepels soetrissiesous
- 1 teelepel tiemieblare (vars is die beste)
- 1 teelepel vars roosmaryn, gekap
- sout en peper na smaak
- 1 pakkie lamsverdikkingsmiddel (of Bisto na smaak)
Voorverhit die oond tot 160ºC.
Geur die lamskenkels liggies met sout en peper.
Verhit die olyfolie in ‘n groot oondvaste pot oor medium-hoë hitte en verbruin die lamskenkels aan alle kante. Verwyder die skenkels en hou eenkant.
Voeg uie, knoffel, wortel en soetrissie in dieselfde pot by. Soteer tot sag.
Voeg 1 koppie beesvleisaftreksel by om die pot te “deglaze” en skraap enige bruin stukkies op die boden van die pot los.
Roer nog 2 koppies beesvleisaftreksel, tamaties in blokkies, tamatiepasta, soetrissiesous, tiemie en roosmaryn by. Bring tot prut.
Plaas die lamskenkels terug in die pot, bedek en plaas dit in die oond.
Bak vir 2 tot 2,5 uur in die oond, of totdat die vleis baie sag is, maar nog aan die been.
Plaas die aartappels in die pot ongeveer 30 min voor die einde van die baktyd.
Haal die pot uit die oond en sit op die stoofplaat. Verwyder die vleis en hou eenkant.
Maak die verdikkingsmiddel aan met bietjie water en voeg by die sous in die pot.
Pas die geurmiddels aan met sout en peper, indien nodig en laat deurkook tot lekker verdik.
Nota:
Indien die sous dik genoeg is na smaak wanneer dit uit die oond kom, is hierdie stap nie nodig nie, maar ek wou lekker baie sous hê.
Plaas die skenkels terug in die sous en laat net deurkook. Bedien saam met rys, of kapokaartappels en groente van jou keuse.
Resep en foto: Rina Kleinhans