GERTJE SE GEVULDE SKORSIE
- 2 skorsies, gehalveer
- 1 ½ ui, fyn gekap
- 4 groot spinasie blare, gesnipper
- ½ groen soetrissie
- 1 tamatie, opgesny
- 150 g maalvleis
- 1 aartappel, in blokkies
- margarien
- 1 wieletjie feta kaas
- genoeg gerasperede kaas
- paprika
Braai 1 ui fyn gekapte, groen soetrissie en tamatie saam.
Geur die maalvleis met braaivleis spesery na smaak en voeg by.
Braai tot meeste vloeistof weg is. Sit eenkant neer.
Maak die lekker groot spinasie blare, gesnipper gaar met die ½ gekapte ui, aartappel en geur met sout en peper na smaak. Laat afkoel.
Sny die skorsies oop, haal pitte uit en kook 15 minute in sout water, haal uit die water en sit op ‘n bakplaat. (Ek het ‘n lekker groooot muffin pan wat goed werk).
Sit ‘n mespunt margarien onder in elke halwe skorsie.
Sny die feta kaas op en meng met die spinasie. Meng met die vleismengsel.
Vul die skorsies lekker boepens. Voeg ¼ koppie gerasperde cheddar kaas oor elke helfte. Strooi bietjie paprika bo-op.
Plaas in voorverhitte oond teen 200° C vir 10-15 minute. Dit maak mooi korsie.
Nota:
Het dit vanaand gemaak saam met baba beet net opgekook in sout water en baba aartappels met botter en knoffelsous met pietersielie.
Genoeg vir twee mense.
Ek eet gewoonlik een helfte en bêre ander helfte om toebroodjie te maak volgende dag, maar my grotman❤ eet altwee helftes altyd. Heerlik!
Resep en foto: Gertje Venter