GEROOSTERDE HEEL PRIMARIB EN GROENTE MET ROOIWYN REDUKSIE
- Onder die roosterstuk:
- 1 ui, in kwarte gesny
- 1 heel knoffelknol, in die helfte gesny (skil en al)
- 4 tot 5 heel tiemietakkies
- Roosterstuk:
- 2.5 kg primarib roosterstuk, been-in
- ½ koppie botter, sag gemaak
- 5 knoffelhuisies, fyn gekap
- 2 eetlepels fyngekapte tiemie
- sout en peper na smaak
- Reduksie:
- 2½ koppies beesaftreksel
- 1½ koppie goeie rooiwyn (ek het cabernet sauvignon gebruik)
- 1 teeleepel mielieblom, aangemaak met klein bietjie water (indien ‘n effe dikker sous verkies word)
- Geroosterde groente:
- 6 tot 8 medium aartapels, in kwarte gesny
- 6 tot 8 wortels, skil en al, in dik stukke gesny
- 8 tot 10 radyse, in die helfte gesny
- olyfolie
- sout en peper na smaak
Haal jou vleis 2 tot 3 ure voor die tyd uit die yskas sodat dit teen kamertemperatuur in die oond ingaan.
Voorverhit jou oond na 240 ºC as dit ‘n oond sonder ‘n waaier is of na 220 ºC as dit ‘n waaieroond is.
Pak die uie, halwe knoffelknolle en heel tiemietakkies onder in ‘n groot oondbak.
Meng die saggemaakte botter, fyngekapte knoffelhuisies, fyngekapte tiemie, sout en peper en smeer ‘n dun lagie van dié mengsel aan die onderkant van die ribstuk en plaas die ribstuk bo-op die laag uie, knoffel en tiemie in die oondbak.
Smeer ‘n ⅓ van die mengsel oor die hele vleissnit. Hou ‘n bietjie van die bottermengsel oor vir later.
Indien verkies, draai die bene in foelie toe sodat dit mooi wit bly.
Plaas die ribstuk in die oond vir 20 minute en haal uit die oond uit.
Stel die oond se temperatuur af na 140 ºC (sonder waaier) of 120 ºC (met waaier) en smeer die res van die bottermengsel oor die vleis.
Plaas ribstuk vir ‘n verdere 90 minute in die oond. Maak elke 30 minute die oond oop en skep van die vloeistof onder in die bak, bo-oor die ribstuk.
Dit is baie belangrik om jou vleis se temperatuur te begin dophou vanaf 60 minute nadat die ribtuk in die oond geplaas is, tot die 90 minute in die oond verstreke is. Meet die temperatuur elke paar minute.
Die aanduiding vir hoe gaar jy die vleis wil hê, is as volg:
Haal UIT oond uit op hierdie temperatuur (die temperatuur gaan ‘n verdere 3 tot 4 grade styg terwyl die ribstuk rus):
Rou (met die binnekant sag, rooi en koel en buitekant bruin geskroei: 46ºC (rare)
Mediumrou: 48ºC (soos op foto’s) (medium rare)
Medium: 51ºC
Mediumgaar: 53 ºC (medium well)
Gaar: gebruik eerder ‘n ander snit vleis (well done)
Wanneer jou ribstuk die regte temperatuur bereik het soos bo verduidelik, verwyder uit die oond en plaas dit oor in ‘n ander bak. Draai dit toe met foelie en laat rus die ribstuk vir minstens 25 minute, maar dit kan tot 40 minute rus. Hierdie stap is BAIE belangrik.
Terwyl die ribstuk rus, skep die aftreksel wat in die bak waarin die vleis gerooster was, agtergebly het oor in ‘n potjie (die olie, uie, knoffel en die res) en hou eenkant.
Plaas die aartappels, wortels en radyse in dieselfde oond- bak waarin die ribstuk gerooster was, sprinkel met olyfolie, sout en peper en bak vir ongeveer 40 minute op 180 ºC of tot goudbruin is.
Terwyl die groente bak, voeg die beesaftreksel en rooiwyn in die potjie by die ander bestanddele.
Kook vir ongeveer 20 minute of totdat die alkohol van die wyn verdamp het.
Indien jy die dikker sous verkies, voeg die mielieblom-en-watermengsel hierby en kook vir 5 minute of tot die sous effens verdik het.
Dreineer die sous deur ‘n fyn sif en gebruik slegs die sous wat deur die sif gedreineer het en nie dit wat in die sif agtergebly het nie.
Sny die ribstuk en bedien dit dadelik met groente en reduksie.
Nota:
Jy benodig ‘n vleistermometer vir hierdie resep vir die perfekte mediumrou geroosterde ribstuk.
Die vleisies wat oorbly, is ook heerlik fyn gesny die volgende dag op ‘n broodjie met mosterd.
Geniet!
Foto’s en resep: Chante Putter