GEROOSTERDE AARBEI YSKAS KAASKOEK
As jy nie lus is vir die gewone trifle etc vir kersfees nie, en iemand is dalk gluten intolerant of ‘n diabeet (of keto/low carb!), kan hierdie dalk ‘n vinnige nagereg vir Kersdag wees. Die versoeter kan ook met suiker vervang word as jy geen dieët beperkings het nie. ‘n Heerlike kaaskoek.
‘n Baie geseënde Kersfees aan almal op hierdie fantastiese groep!🎄
- Kors:
- 1½ koppie amandelmeel (of neutmeel van jou keuse)
- 50 g fyn klapper
- 100 ml versoeter van jou keuse
- 100 g botter, gesmelt
- Aarbeie:
- 250 g aarbeie, in skyfies gesny
- ½ teelepel vanilla geursel
- 2 eetlepels versoeter
- Vulsel:
- 500 g roomkaas
- 200 ml versoeter van jou keuse, na smaak
- ½ teelepel vanilla geursel
- 250 ml room
- ¼ koppie water
- 3 teelepels gelatienpoeier
Meng die amandelmeel, klapper en versoeter saam tot deur gemeng.
Voeg botter by en meng totdat die mengsel soos nat sand lyk.
Voer die bodem en kante van ‘n 22 cm losboompan, wat gespuit is of gesmeer is met olie, met die mengsel uit (vingers werk goed).
Bak 12 minute by 180ºC tot goudbruin (hou goed dop want die kors brand maklik). Laat afkoel in die yskas.
Plaas aarbeie op ‘n gespuite oondpan in die steeds warm (180ºC) oond, en rooster 15 minute.
Skep die aarbeie in ‘n fles, voeg 2 eetlepels water by en maak fyn met ‘n stick blender.
Skep 4 – 5 eetlepels van die mengsel uit en hou eenkant.
Klits die roomkaas, vanilla geursel en versoeter met ‘n kliser saam tot lig en goed gemeng.
Sprinkel die gelatien oor die water, en laat spons vir minstens 3 minute.
Mikrogolf vir 10 – 15 sekondes om seker te maak die korrels is heeltemal opgelos.
Voeg die gelatiemengsel, room en aarbeipuree by die roomkaas, en klits goed op hoë spoed totdat alles glad is en goed gemeng is. Skep die vulsel in die koel kors, skep die oorblywende aarbeipuree in 5 dollops rondom die bolaag van die koek.
Gebruik ‘n sosatiestokkie of skerppunt mes en trek strepe deur om ‘n “marble” effek te verkry.
Laat stol in die yskas vir minstens 5 ure.
Maak koek versigtig los en bedien.
Resep en foto: Ilze Jacobs