Your Recipe Blog

GERDA SE SKAAPVLEIS MET PYNAPPEL

Avatar photo
Recipe by
Cook: 60 minute | Servings: 5 - 6 porsies

GERDA SE SKAAPVLEIS MET PYNAPPEL

Ek soek gister iets lekker om te maak met skaap boudtjops, en krap toe op ons blog rond. Ek kry toe hierdie heerlike resep onder een van ons resepte, en julle kan dit maar probeer, dit is regtig heerlik, en die vleis is heerlik sag. Ek weet nie almal is lief vir warm vrugte nie, en vir julle, ek sal die fyn pynappel in so geval gebruik en ‘n lekker poeding maak daarvan, maar onthou dit is die pynappel wat die vleis lekker sag en sappig maak. Ons het dit regtig baie geniet, en die volgende dag is dit nog net so lekker.

Marius en Sandra Hugo – Ek het hierdie resep by my oorlede skoonma se buurvrou gekry. Heerlik! Ons het dit na haar vernoem.

  • 6 skaapboudtjops
  • sout en peper na smaak
  • koekmeel om die tjops in te rol
  • olie vir braai
  • 1 ui, opgekap
  • 1 knoffeltoontjie, opgekap
  • 1 blik pynappelstukke met sous (nie die heel groot blik nie)
  • 3 eetlepels asyn
  • 2 eetlepels Worcestersous
  • ½ eetlepel kerriepoeier
  • 1 eetlepel bruinsuiker
  • 1 koppie tamatiesous
  • 1 eetlepel koekmeel

Geur die boudtjops met sout en peper na smaak en rol die tjops in die meel.
Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan op die stoof en bak die tjops in die warm olie tot ligbruin.
Verwyder die tjops uit die pan en pak dit in ‘n oondbak.
Dreineer die pynappelstukke en hou die sous eenkant.
Sprinkel die pynappelstukke oor die tjops in die oondbak en plaas eenkant. (Ek het fyn pynappel gebruik, stukke kan ook goed werk)
Braai die gekapte ui en knoffel in dieselfde pan tot bruin en voeg die pynappelsous by die uie en knoffel in die pan en roer deur.
Voeg die asyn, Worcestersous, kerriepoeier, bruinsuiker en tamatiesous by die uiemengsel in die pan en kook die mengsel goed deur.
Verdik die sous deur die 1 eetlepel meel met bietjie water te meng om ‘n pasta te vorm en voeg dit by die sous in die pan, verhit die sous tot effens dikker. Indien die sous te dik is, voeg bietjie water by.
Giet die sous oor die vleis en pynappelstukke en bedek die bak met foelie.
Bak die vleis vir 1 uur in ‘n warm oond of tot gaar en sag en die sous lekker dik om saam met ‘n stysel te bedien. (Moenie die tjops omdraai nie.)
HEERLIK!

Nota: Alda Nel –
Ek het die gereg in die prutpot gemaak, dit het heerlik uitgekom. So 3 ure op hoog en toe so 2 ure op laag. Ek het die resep verdubbel vir 16 tjops, die middelmatige blik pynappelstukke gebruik en die sous verdik met ongeveer ‘n gelykvol eetlepel psyllium husks en deurgekook.

Resep geplaas deur Marius en Sandra Hugo
Foto: Rina Kleinhans

Category:

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5