GEMMERVRUGTE-ASYN POEDING MET ‘N EFFENSE SKOP
Ek het nou al lank lus vir ‘n gebakte gemmerpoeding vandat ek die mikrogolf gemmerpoeding gesien het en vannaand het die lus net te groot geraak-maar ek het besluit op ‘n gemmervrugtepoeding, soort van gekruis met my ma se asynpoeding – omdat ek lus was!
Die resep kom oorspronklik uit Wenresepte 2, maar soos altyd het ek dit aangepas na wat ek het. Baie baie lekker op ‘n koue aand en die laaste stap maak ‘n groot verskil… giet dit oor as jy kan!
- Stroop:
- 500 ml water
- 250 ml suiker
- 2 eetlepels wit asyn
- 30 ml botter/margarien
- 5 ml gemmerpoeier
- Beslag:
- 50 – 100 ml sultanas of gedroogde vrugtemengsel
- 125 g geglaseerde kersies (ek het groen kersies gehad en gebruik)
- 30 ml
- botter/margarien
- 25 ml appelkooskonfyt
- 375 ml koekmeel
- 90 ml suiker
- 15 ml fyn gemmer
- 3 ml sout
- 12 ml koeksoda
- 190 ml melk
- 2 eiers
- 30-50 ml Southern Comfort/brandewyn/sjerrie
Smeer of spuit ‘n dieperige oondbak met olie. Verhit die water, suiker, asyn, botter en gemmerpoeier saam en laat ‘n minuut kook.
Haal van die stoof af en hou eenkant .Verhit die droë vrugte, kersies, botter en konfyt in ‘n pot oor lae hitte totdat die konfyt gesmelt het. Hou eenkant. Meng meel, suiker, gemmer en sout saam. Klits melk, koeksoda en eiers saam.
Meng vrugtemengsel en melkmengsel by droë bestanddele. Skep in gesmeerde oondbak, en giet stroop bo-oor.
Bak 30 – 35 min by 180ºC.
Giet Southern Comfert of sjerrie oor warm poeding en bedien met room of roomys.
Resep geplaas deur Ilse Garbers Jacobs
Foto: Ilse Garbers Jacobs