GEMMER EN LEMOEN ONDERSTEBO-KOEK
Jy kan die lemoen met appels, pere, pynappelringe, nartjies of bessies vervang. Vir die koek op die foto het ek heuning gebruik.
- 2 – 3 lemoene, in ringe gesny (net genoeg om die boden van die pan te pak)
- gesmelte botter om pan mee te smeer
- 100 ml suiker of heuning (of versoeter)
- 5 – 10 cm vars gemmer, geskil en gerasper (ek het 5 cm gebruik)
- 1 koppie bruismeel
- ½ koppie fyn amandels
- 1 koppie strooisuiker
- 1 koppie gesmelte botter
- ½ teelepel sout
- 3 eiers
- 1 teelepel bakpoeier
- 80 ml melk
- skil van 1 suurlemoen, opsioneel
Berei jou pan voor deur dit met Spray n Cook te spuit, die bodem met bakpapier te bedek en die gesmelte botter oor dit te smeer.
Indien jy ‘n losboom pan gebruik maak baie seker hy seël 100% anders kook al jou stroop uit.
Sprinkel die 100 ml suiker of heuning eweredig in die pan en rasper die gemmer bo-oor.
Pak dan die lemoenringe netjies bo-op.
Meng nou die res van die bestanddele saam totdat dit romerig en lig is.
Skep oor die lemoenringe in die pan.
Bak by 180°C vir 30 – 35 min in ‘n 23 cm pan of 40 min in ‘n 20 cm pan of tot ‘n mes skoon uitkom. Groter pan gee ‘n laer koek/ meer ‘n tert.
Nota:
Ek het bietjie vars lemoensap oor die warm koek gegiet (pasop vir te veel) net toe hy uit die oond kom, en laat staan tot hy effe afkoel het voor ek hom omgekeer het op ‘n mooi bord sodat die lemoenskywe bo is.
Bedien met vars room.
Resep geplaas deur Charmaine Timmerman
Foto en resep aanpassings: Rina Kleinhans