GEKRUMMELDE HOENDERREPIES- EN PASTAGEBAK
- gekrummelde hoenderrepies (genoeg om die boom van jou bak te bedek)
- 4 -5 koppies rou pasta (ek het macaroni gebruik)
- 350 ml baba ertjies, gekook vir 3 minute en gedreineer
- 1 pakkie hoenderroomsoppoeier
- 1 pakkie “3 cheeses” souspoeier
- 300 – 400 ml melk
- 250 ml room
- 1 eetlepel knoffelvlokkies, opsioneel
- gerasperde wit en geel Cheddar kaas gemeng (genoeg om jou gereg te bedek)
- Aromat
Kook die pasta en knoffelvlokkies in soutwater tot sag en dreineer. Gebruik ‘n oondbak van 30 x 20 x 5 cm en spuit met Spray ‘n Cook. Plaas hoenderrepies teenmekaar op bodem van pan, genoeg repies om die bodem te bedek en bak in voorafverhitte oond teen 180 ºC vir ongeveer 7 – 10 minute. Verwyder uit oond en hou eenkant.
Terwyl pasta kook en hoender bak, berei die sous voor. Meng die soppoeier en kaassouspoeier met die melk en bring tot kookpunt op matige hitte terwyl jy die sous bly klits met draadklitser. Wanneer die sous die verlangde dikte bereik het (nie te dik nie, maar ook nie loperig nie), voeg die room by, bly klits met draadklitser en kook vir nog 2 – 3 minute.
Meng die pasta, ertjies en twee-derdes van die kaassous en skep die mengsel bo-op die hoenderrepies. Smeer die oorblywende kaassous bo-oor die pastamengsel, strooi die kaas lekker dik bo-oor en sprinkel Aromat oor. Plaas terug in die oond en bak tot goudbruin en deurwarm, ± 10 – 15 minute.
Resep en foto: Elma Venter-Brittz