GEBAKTE SAGOPOEDING SOOS OUMA SIN
Soos ouma hom gemaak het – een salige heerlikheid.
- 200 ml sago
- 750 ml melk
- 175 ml suiker
- knippie sout
- 2 ml amandelgeursel
- 25 ml botter of margarien
- 2 eiers, geskei
- 50 ml appelkooskonfyt
- ¾ teelepel kremetart
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondvaste bak deeglik.
Spoel sago af en plaas dit in ‘n kastrol saam met die melk.
Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut stadig totdat die sago deurskynend is.
Verwyder van die hitte en voeg 125 ml suiker, sout, geursel en botter by.
Klits die eiergele en roer dit by die sagomengsel in.
Skep die mengsel in die voorbereide bak en stip met appelkooskonfyt.
Bak vir ongeveer 30 min totdat die poeding redelik begin stol.
Klits die eierwitte tot stywe punte begin vorm.
Voeg die res van die suiker gemeng met die kremetart lepel vir lepel by en klits tot blink en glad is.
Skep die meringue oor die poeding sodat dit puntjies staan.
Bak sowat 20 – 25 min of tot gaar en tot die meringue goudbruin is.
Sit warm voor of by kamertemperatuur.
VARIASIE
Kaneelgeur:
Laat prut ‘n kaneelstokkie saam met die melk en sago en sprinkel kaneel oor die poeding i.p.v konfyt.
Klapper:
Voeg 125 ml klapper by sodra die sago deurskynend is en sprinkel klapper oor die meringue.
Sjokolade:
Voeg 50 ml kakao by die 125 ml suiker.
Geniet hom, hy is regtig lekker.
Resep aanpassings: Rina Kleinhans
Foto: Ansi Pypers Fourie