GEBAKTE PIESANGPOEDING MET KARAMELSOUS
- 90 ml sagte botter
- 375 ml bruinsuiker
- 375 ml melk
- 3 eiers
- 125 ml koekmeel
- 5 ml bakpoeier
- 1 ryp piesang, fyn gedruk
- 5 ml gerasperde lemoenskil
- 5 ml vanilla
- versiersuiker vir bo-op sif, indien verkies
Voorverhit die oond tot 180 ºC. Spuit ‘n oondvaste bak met die inhoudsmaat van 1,25 liter.
Meng al die bestanddele saam in ‘n elektriese menger of met ‘n handklitser tot lekker glad.
Skep in die bak en bak vir 40 – 60 min tot goudbruin en gaar.
Sif bietjie versiersuiker oor en bedien met hierdie heerlike sous.
BRANDEWYNKARAMELSOUS
Hierdie sous hou baie lank in die yskas en is heerlik saam met roomys of vrugtekoek of enige ander nagereg. Iets lekker om byderhand te hê.
- 250 ml suiker
- 125 ml botter of margarien
- 15 ml water
- knippie sout
- 250 ml melk
- 2 eetlepels brandewyn
- 2 teelepels mielieblom (of meer indien dikker verkies)
Verhit die suiker, margarien en water in ‘n kastrol oor matige hitte en roer aanhoudend tot die mengsel ligbruin is, pasop dit brand maklik. Haal die kastrol van die stoof af en roer die melk by en kook die sous tot klontjies opgelos is. Voeg mielieblom aangemaak met bietjie melk by en kook vir paar minute.
Voeg sout by en dan die brandewyn. Roer goed.
Nota:
Kan koud of warm bedien word.
Indien verkies kan die brandewyn uitgelaat word vir gewone karamel sous.
Foto en resep aanpassing: Rina Kleinhans
Foto 2: Adri Redlinghys – Ek het hom gebak presies soos resep sê. Dit is baie slap deeg. As hy gebak is, is die tekstuur meer soos ‘n tert as koek, dit is nie sleg nie net ongelooflik soet. Sal dit volgende keer met meer meel en minder suiker maak. My kids was nie mal oor die tekstuur nie, hulle verkies iets meer soos ‘n koek. Die sous is ‘n treffer.