GEBAKTE JELLIEPOEDING
Dié resep van Ronel Blanche is meer as 45 jaar oud en een van die gunstelinge wat haar ma – winter of somer – vir Sondagmiddagete gemaak het.
Wayne Dugmore – Wat ‘n lekker poeding! Definitief iets om te maak as jy nie weet waarvoor jy lys is nie!!!
- Vir die sous:
- ¼ koppie suiker
- 1 pakkie jelliepoeier van jou keuse
- 2 eetlepels botter
- 1 ½ koppie kookwater
- Vir die beslag:
- 1 eetlepel botter
- 2 eiers, geklits
- 2 eetlepels appelkooskonfyt
- 1 teelepel koeksoda
- 1 eetlepel melk
- 2 eetlepels suiker
- 5 eetlepels koekmeel
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Maak eers die sous deur al die bestanddele te meng totdat die jellie opgelos het.
Gooi dit in ’n oondbak (20 cm x 20cm).
Meng al die bestanddele vir die beslag goed saam. Skep dit bo-op die sous, maar moenie dit roer nie.
Bak dit vir ongeveer 30 minute totdat die deeg bruin bo-op en gaar is en ’n sous onderin die bak gevorm het.
Nota:
Indien jou sous nog te dun is na die baktyd, maak die poeding toe met foelie en bak hom ‘n verdere 10 min
Wenk:
Skep die poeding soos koekstruif in glase, met lagies klaargemaakte vla tussen-in.
Laat dit in die yskas afkoel, en sit dan voor.
Gebruik die kleur jellie wat by jou tema pas vir mooi kleur in die glase.
Resep deur Ronel Blanche
Foto: Rina Kleinhans en Annelie Kruger