GEBAKTE EIERMUFFINS
Iemand het onlangs gesoek na ontbyt-idees vir haar Bed en Ontbyt. Hierdie resep is absoluut heerlik. Die platgerolde broodkorse in die muffinpanne kan vooraf gemaak en in ‘n plastieksak gebêre word, en die ontbytspek kan ook sommer onder die oondrooster voor die tyd gaargemaak word. Die resep is vir 6 eiermuffins, en die oondbaktyd sal afhang van hoe gaar die eiers moet wees. In die oggend hoef jy dan net alles saam te stel, te sorg dat die oond warm is, en die hele kaboedel te bak.
- 6 spekrepe, verkieslik “streaky bacon”
- ongeveer 2 eetlepels gesmelte botter
- ongeveer 2 eetlepels esdoringstroop (maple)
- 6 snye witbrood, korsies afgesny
- 6 eiers, (ek verkies jumbo van vryloop-hoenders)
- sout en peper
- 6 eetlepels vars, dik room
- 6 eetlepels gerasperde cheddarkaas (mature is die beste)
Maak die spek goed gaar, dit kom nogal mooi bros en bruin uit onder die oond se rooster-element. Krummel en bêre.
Verhit oond tot 190ºC. Smeer 6 gewone muffinpannetjies baie goed met botter, selfs al is hulle die nie-kleef-soort.
Meng die botter en stroop in ‘n bakkie.
Rol die brood met ‘n broodroller tot plat en smeer dan (aan die kant wat binne sal wees) met die botter-maple syrup mengsel.
Voer die gesmeerde muffinpanne uit met die brood, soos ‘n pasteikors.
Bak die broodkorsies tot die brood bros is, so 5 minute, toets maar self. Haal uit en bêre in ‘n lugdig houer indien jy dit eers die volgende oggend gaan gebruik.
Sprinkel gekrummelde spek in elke muffinkors. Breek ‘n eier in elke muffinkors.
Geur baie liggies met sout en peper (probeer ‘n slag witpeper).
Bedek elke eier met 1 eetlepel room en 1 eetlepel kaas.
Bak tot die eierwitte net geset het, dit neem so 10 – 15 minute, of totdat die eiers gaar genoeg is na jou smaak.
Resep en foto: Zuri Roos