GEBAKTE EIER- EN AARTAPPELGEREG
- 500 g aartappels
- 25 g botter
- 2 eetlepels olyfolie
- 1 fyngekapte ui
- 150 g ontbytspek, gesnipper
- sout en peper na smaak
- 5 of 6 eiers
- gerasperde Cheddarkaas om bo-oor te strooi
- 250 ml dik room
Skil die aartappels en sny dit in klein blokkies.
Mikrogolf of stoom die aartappels in ‘n bietjie water op die stoof, totdat dit net begin gaar raak, maar nog baie ferm is.
Braai intussen die uie en ontbytspek liggies in die olie en botter in ‘n warm pan.
Verwyder die uie en ontbytspek uit die pan en voeg bietjie ekstra olie in die pan.
Braai die halfgaar aartappels in dieselfde pan met die warm olie totdat dit verbruin, geur met sout en peper.
Meng die uiemengsel met die aartappels en skep dit in ‘n oondbak.
Breek die eiers versigtig oop bo op die aartappels sodat die gele heel bly.
Sprinkel kaas bo-oor.
Giet die room versigtig oor sodat dit die aartappels bedek maar nie die eiergele nie.
Geur weer met ‘n bietjie sout en peper na eie keuse.
Bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC, totdat die wit van die eiers gestol is, maar die gele nog loperig is. Bedien dadelik.
Resep en foto: Adam Cloete