Your Recipe Blog

FRIKKIE SE AARTAPPELSUURDEEG BESKUIT

FRIKKIE SE AARTAPPELSUURDEEG BESKUIT

Waarskuwing: Dis heel dag se werk.

  • Vir Suurdeeg: Meng alles saam en maak warm toe om uit te rys (2 ure)
  • 1 blik kondensmelk
  • 4 geklitste eiers
  • 3 koppies aartappelsuurdeeg (voor die tyd gemaak – resep onderaan)
  • 6 koppies koekmeel
  • Deeg:
  • 16 koppies koekmeel
  • 2 eetlepels sout
  • 500 g botter of bakmargarien, sag
  • 3 koppies suiker
  • 1 boksie anys, opsioneel
  • ± 4 koppies lou water, om mee te knie

Meng die meel, sout, suiker (en anys) en vryf die botter in.
Giet die uitgerysde gis in en maak die deeg aan. Knie met die water wat jy bietjies, bietjies bysit tot die deeg lekker hanteerbaar is. Knie baie goed (ongeveer 1 uur).
Smeer botter bo-op en laat op ‘n warm plek staan om uit te rys (4 ure).
Knie af en laat weer uitrys (2 ure).
Maak panne op, en laat weer uitrys (2 ure).
Bak by 160°C vir 1¼ uur.
Smeer soet swart koffie oor die koppe as dit uit die oond kom vir ‘n mooi glans.
Koel heeltemal af voor jy in stukke breek en vir 6 ure by 80°C uitdroog.

Resep en foto:  Frikkie Jones

Gisplantjie:
Rasper 1 geskilde aartappel en gooi in ‘n 1 liter fles.
Strooi 1 teelepel sout en 2 eetlepels suiker oor.
Strooi 1 pakkie kitsgis by en maak bottel driekwart vol met lou water.
Sit so 6 rosyne by en sit die plaatjie op die fles. Moenie vasdraai nie.
Laat op ‘n warm plek staan oornag.
Sif die volgende oggend die skrapnel uit en soek die rosyne. Hou ‘n kwart van die vog en aartappel en die rosyne.
Plaas in die bottel en rasper weer ‘n aartappel in.
Sit weer 1 teelepel sout en 2 eetlepels suiker by en vul weer aan met lou water tot driekwart.
Laat weer staan tot die derde oggend.
Herhaal weer die proses soos op die tweede dag. Maar gebruik die gesifte vloeistof om mee te bak. 1 koppie vloeistof per 1 kg meel.
Hou weer ‘n kwart van die vloeistof, aartappel en rosyne soos op die tweede dag.
Jy moet hom elke dag kosgee soos op die tweede dag. En as jy nie wil bak nie slaap hy in die yskas. As jy weer wil bak, haal die aand voor die tyd uit.

Category:

One Review

  1. Elbie Richter

    Dit klink nes my oorlede moeder se resep!!! Dankie, nou gaan ek dit ook probeer hier in Ierland waar ek nou woon.

    Star

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page