FRIKKADELLE TOEGEDRAAI IN KOOLBLARE
- 500 g beesmaalvleis
- 500 g varkmaalvleis
- 250 ml sagte broodkrummels
- 10 ml fyn koljander
- 1 ml fyn naeltjies
- 1 ml fyn neutmuskaat
- sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
- 25 ml asyn
- 6 groot vars koolblare
Verhit oond tot 150°C. Meng die twee soorte maalvleis saam, voeg broodkrummels by en meng goed.
Voeg die res van die bestanddele (behalwe die koolblare) by en meng goed. Vorm 6 frikkadelle en hou eenkant.
Plaas koolblare in ‘n groot bak en gooi kookwater oor. Maak seker blare is bedek met kookwater.
Laat staan vir sowat 5 minute totdat die blare sag is. Haal uit en dreineer op kombuispapier.
Sny die harde stronkgedeelte uit die koolblare. Plaas ‘n frikkadel in die middel van ‘n koolblaar en maak soos ‘n pakkie toe.
Plaas die frikkadelle in ‘n oondbak, toegevoude deel na onder. Giet 125 ml kookwater in die oondbak en bedek met tinfoelie of ‘n deksel.
Plaas in die oond vir ‘n uur, tot gaar. Daar sal ‘n lekker sousies uitkook, wat mens kan verdik of net so gebruik om saam te bedien.
Haal uit en skep frikkadelle op ‘n opdienbord.
Sit voor saam met kapokaartappels
Resep: Marie Rheeder Troskie
Foto: Adeline Carstens