FLOPVRYE KARRINGMELK BESKUIT
Vandat ek kan onthou, bak my Ma al hierdie beskuit vir ons gesin. Dit het altyd saamgegaan op vakansies, deur die jare geskenke vir die onderwysers, jyt dit geëet as jy dood honger van die skool af kom of heeldag geswem het, dit kan net nie flop nie.
- 850 g bruismeel
- 150 g semels (bran)
- 500 g muesli of granola
- 500 g Stork bakmargarien
- 2 koppies suiker
- 500 ml karringmelk
- 4 eiers
- 4 teelepels bakpoeier
- 1 teelepel sout
- 100 ml olie
Voorverhit die oond tot 180°C.
Smelt die margarine in ‘n groot pot.
Klits die karringmelk, suiker, eiers en olie saam.
Voeg die droë bestanddele en die nat bestanddele alles gelyk saam by die margarine in en meng goed deur. Die beslag is nat, dit moet so wees.
Keer uit in ‘n gesmeerde diep oondpan en maak gelyk bo-op. (Ek maak sommer my een hand bietjie nat met water en druk die deeg mooi gelyk in die beskuit pan).
Bak teen 180°C vir 1 uur.
Toets met ‘n toetspen na ‘n uur om seker te maak die beskuit is gaar.
Laat die beskuit eers afkoel IN die pan, as jy te haastig is, gaan die beskuit uitmekaar breek.
Keer uit op ‘n draadrak om heeltemaal af te koel.
Sny die beskuit in dik skywe met ‘n broodmes en dan in fingers, so groot soos jy wil hê.
Pak versigtig op jou oond se rakke, effe uitmekaar en droog oornag teen 100°C met die oonddeur op ‘n skreef oop sodat die vog kan ontsnap, of ten minste 8 ure as jy deur die dag uitdroog.
Nota:
As jy nie van semels en muesli of granola hou nie, dan los jy dit uit en verander die bruismeel na 1.5 kg meel.
Resep en foto: Dionné Page Olivier