FLOP VRYE KOEK OP DIE STOOF
Ek het nou die mees suksesvolste koek gemaak in jare. So eenvoudig en vir mense soos ek wat amper altyd my koek OF brand OF rou uit die oond haal, is hierdie perfek! Jy kan hom nie brand nie al wil jy. Hy is soooo sag en fluffy – dis heerlik!
- 4 eiers
- 200 g suiker
- knippie sout
- 5 ml vanilla geursel
- ½ koppie gesmeltde botter of bak margarien
- 1 koppie koekmeel
- 1 opgehoopte teelepel bakpoeier
- 2 eetlepels kakao
Klits die eiers goed. Voeg die suiker by en klits verder. Voeg ‘n knippie sout, vanilla geursel en ‘n halwe koppie gesmeltde botter of margarien by en klits verder. Voeg die koekmeel en die bakpoeier by en klits laaste keer.
Nota:
Ek het ook so 2 eetlepels kakao bygesit vir variasie. Ek dink bietjie lemoen geursel is my volgende keuse.
Ek het ‘n koek pannetjie met gesmeltde botter gesmeer en koekmeel ligtelik oor gesprinkel en die mengsel daarin geskep.
Jy gebruik ‘n lekker diep pot met ‘n deksel, vul halfpad met kookwater, sit ‘n klein koekie drukker of staandertjie in die middel van die pot en sit die koekpannetjie bo-op neer. Sit die deksel op en sit die stoof aan op middelmatige hitte vir 40 minute of tot gaar toets, moenie die deksel lig voor die tyd nie verby is nie.
Die koek stoom gaar en kom sooooo heerlik uit! Beste van als is dat hy nie kan brand nie al probeer jy.
So maklik en die koek kom so egalig uit jy lyk skoon soos ‘n pro 😆.
Sprinkel met gesifte versiersuiker en voila.
Resep en foto: Laurika Hattingh Fourie