FINSE DONUTS
Hulle word veral vandag, Mayday, bedien hier by ons. Die kardemom kan uitgelos word, maar ons het al gewoond geraak aan die smaak en geniet dit.
- 250 ml melk
- 1 pakkie kitsgis (10 g )
- 80 ml suiker
- ¾ teelepel sout
- 10 ml kardemom
- 1 eier
- 700 – 800 ml koekmeel
- 50 g botter of margarien, baie sag
- olie vir braai
- suiker om in te rol
Verwarm die melk na ongeveer 42 ºC en giet in jou menger se bak.
Voeg die sout, suiker, kardemom en eier by die melk.
Voeg so ongeveer 400 ml van die meel by die melk mengsel en klits totdat jy ‘n gladde mengsel kry.
Voeg nou die botter of margarien by en meng.
Laastens voeg jy die meel so 100 ml op ‘n slag by. Hier is dit moeilik om te sê of jy al die meel moet gebruik, want lande se meel verskil en absorbeer ander as ons s’n. Jou deeg moet nie ‘n stywe bal vorm nie, en net so ‘n bietjie taai as jy daaraan vat.
Bedek en los om te verdubbel in ‘n warm plekkie. Ek plaas myne in my mikrogolf.
Nadat jou beslag verdubbel het gooi dit uit op jou werksoppervlakte en deel in 20 stukke.
Nota:
Wat ek maak is, weeg my bak met beslag in, nadat ek dit uitgegooi het weeg ek my leë bak en so kan ek bereken hoveel my deeg weeg wat ek dan in 20 eweredige stukke verdeel.
Neem ‘n stukkie waspapier of skinkbord en smeer dit baie liggies met olie.
Rol die deeg in balletjies en plaas dit op die gesmeerde oppervlakte.
Bedek en los om te verdubbel.
Verwarm jou olie na 180 ºC.
Druk jou vinger in die middel van die balletjie om ‘n gaatjie te vorm. Rek hom so ‘n bietjie grooter en plaas dit versigtig in die warm olie.
Braai vir so 2 min aan beide kante tot lig bruin.
Verwyder en plaas op kombuis papier om die oortollige olie te absorbeer.
Rol in suiker en geniet.
Hier word dit bedien met Sima…mead.
Foto: Wilanda Räsänen