ELSA SE NOEDELHOENDER
Ek het die resep jare gelede by my ma gekry; dit bly ‘n wenner in ons huis.
- 1 hoender
- 2 blokkies hoenderekstrak
- 100 g skroefnoedels, gekook soos op verpakking
- 100 ml mayonnaise
- 1 groot pak sout-en-asyn aartappelskyfies, fyn gedruk
- 50 ml gekapte pietersielie
- 2 eiers, geklits
- 400 ml witsous:
- 350 ml melk
- sout en peper
- 1 opgehoopte teelepel botter
- 3 opgehoopte teelepel Maizena
Was hoender en plaas in kastrol met ekstrak, sout en peper en bietjie kookwater en kook tot sag.
Maak solank die witsous (sommer in mikrogolfoond).
Kook in ‘n bak 350 ml melk waarin bietjie sout, peper en die botter is.
Meng die Maizena met ‘n bietjie water en roer by melkmengsel wanneer dit begin kook.
Plaas terug in mikrogolfoond en laat weer opkook.
Ontbeen hoender en maak vleis fyn.
Meng hoender, noedels, mayonnaise en die helfte van die skyfies en skep dit in ‘n oondvaste skottel.
Meng witsous en pietersielie en eiers en gooi bo-oor.
Strooi die res van die skyfies bo-oor en bak vir 20 minute teen 180 °C of tot die sous verkleur.
Resep en foto: Elsa Van Kradenburg Fourie