ELMARIE SE HEERLIKE KOEKSISTERS
Vandag bietjie koeksisters gebak en my gadgets gebruik. Kyk ek het hulle vir baie jare, maar die kas het dit gebruik. Vanoggend besluit ek gaan dit probeer. Die groot geheim is jou deeg. Knie dit goed en als kom goed uit.
Ek knie my deeg die aand en sit in yskas. Stroop word gekook en gaan yskas toe. Volgende oggend rol ek al 15 dosyn klaar uit en bedek sommer met selofaan. Ek gooi my stroop in bak en as ek begin bak bly daardie stroop daar en ek top net op tot ek klaar gebak het. Het probeer afneem, kyk hoe trek hul stroop, as jy hom oopbreek, drup die stroop uit. As afgekoel, verpak ek dit en gaan vrieskas toe. Bly crispy buite en vol stroop binne.
- 575 g koekmeel
- 2 teelepels bakpoeier
- 1 eetlepel botter
- 1 eier
- knippie sout
- 370 g Amazi, met eier ingeklits
Meng droë bestanddele en vryf botter in. Klits eier en voeg by Amazi. Saam moet dit 370 g weeg.
Knie die deeg baie goed tot elasties. Hier lê die geheim, jy moet sommer lekker knie. Wanneer mens begin knie lyk dit droog, maar daar moet nie nog bygevoeg word hy knie heel reg soos hy moet wees.
Maak toe met plastiek. Laat oornag in yskas.
Volgende dag, rol so 3 mm uit en sny jou koeksisters, vleg almal, sit onder ‘n nat vadoek of selofaan en begin dan bak.
Ek bak dit op my konveksieplaat op 270°C. Olie moet nie te warm wees, bak dit tot mooi kleur het. Hul draai sommer vanself om, anders draai maar.
Dompel dadelik in koue stroop. Pak op draad rakkie om af te drup.
Wanneer die koeksisters koud is, verpak en sit in die vrieskas.
Nota:
Ek gebruik stroop uit yskas en soos hul dit opsuig, voeg ek net weer stroop wat uit yskas kom by maw ek gooi koue stroop net elke keer by die wat reeds in bak is.
- Stroop:
- 8 koppies suiker
- 4 koppies water
- 1 lemoen
- 1 ml kremetart
Sny lemoen in kwarte en voeg by.
Los suiker op in die water in ‘n pot op die stoof en as begin kook, kook net vir 8 min.
Voeg die kremetart by sodra dit begin kook. Bere die stroop in die yskas tot die volgende dag wanneer jy gaan bak.
Resep en foto: Elmarie de Bruyn – Die resep by my buurtannie gekry jare gelede.