ELAINE SE KOEKSISTERS
My man vra gister wanneer ek weer koeksisters bak. Besluit toe om gou voor werk vanoggend die stroop en deeg te maak en na werk te bak. Dit bly steeds vir my die lekkerste resep. Die resep lewer 4 dosyn maar ek het hom halveer.
- 1.75 kg (8 x 250 ml) wit suiker
- 1 liter water
- 20 ml gouestroop
- 2 ml kremetart
- 1 ml wynsteensuur
- knypie sout
- 550 g (4 x 250 ml) koekmeel
- 20 ml bakpoeier
- 5 ml sout
- 60 ml botter of margarien
- 375 ml melk
- 1 eier
- kookolie
Verhit suiker, water en gouestroop tot kookpunt, terwyl jy heeltyd roer. Maak seker dat die suiker gesmelt is voordat dit begin kook. Kook stroop 8 minute. Haal van plaat af en roer die kremetart, wynsteensuur en sout by. Laat afkoel en plaas dan in yskas.
Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf botter in droë bestanddele tot goed gemeng. Klits eier en melk saam.
Voeg by meelmengsel en maak aan tot sagte, rolbare deeg. (Dit moet soos skondeeg wees)
Bedek en laat oornag in yskas.
Rol deeg dun uit op oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en sny in stroke van sowat 1 cm.
Sny stroke lengtes van nagenoeg 10 cm en vleg. Plaas op skinkbord en bedek met klam doek.
Bak koeksisters stadig tot mooi bruin in diep warm kook olie. Oppas vir te warm, want jou koeksisters sal buite reg lyk, maar binne nog nie deur gebak wees nie. Dit sal veroorsaak dat jou stroop nie gaan inttrek nie.
Haal een vir een uit die olie en doop onmiddelik in yskoue stroop. Ek hou hulle vir ‘n paar sekondes onder die stroop, dan trek dit mooi in. Haal uit en sit stroop dadelik weer in yskas.
Die resep sê 5 tot 6 dosyn. Maar ek verkies hul effens groter so ek kry slegs 4 dosyn.
Foto: Elaine Steyn
Resep geplaas deur Elaine Steyn