EIERVRUG LASAGNE
Een van my gunsteling keto/low carb/diabeties vriendelike resepte is eiervrug lasagne. Ek hou daarvan om ‘n groot batch maalvleis gaar te maak en in ziploc sakkies te vries en dan net ‘n sakkie te ontdooi vir ‘n vinnige aandete. Rooster die eiervrug en maak die sous, sit aanmekaar en bak. Regtig heerlik… keto of nie!!
- Maalvleis mengsel:
- ½ ui, fyn gekerf
- 15 ml olyfolie
- 500 g bees- of skaap maalvleis
- 1 teelepel knoffelpoeier
- 1 teelepel gemende kruie
- 1 kaneelstokkie
- 1 blik gekapte tamatie
- 1 ½ teelepel versoeter van jou keuse
- sout en peper na smaak
- Eiervrug laag:
- 2 eiervrugte
- 20 ml olyfolie
- Keto witsous (bechamel)
- 250 ml room
- 100 g roomkaas
- 2 eetlepels gerasperde Parmesaankaas
- ½ teelepel fyn neutmuskaat (nutmeg)
- 1 teelepel sout
- 200 ml gerasperde kaas
Braai ui in olie tot deurskynend. Voeg maalvleis en geurmiddels by en braai tot bruin. Voeg tamaties en versoeter by en prut totdat meeste van die vloeistof verdamp het. Haal die kaneelstokkie uit en plaas eenkant. Sny die eiervrug in 1.5 cm skywe in die breedte, plaas op ‘n gesmeerde bakplaat, drizzle olyfolie bo-oor en bak by 210ºC vir 25 minute, tot goudbruin.
Plaas eenkant.
Plaas die witsous bestanddele in ‘n pot en verhit.
Meng totdat alles gesmelt is en lyk soos ‘n witsous.
Sit nou lasagne aanmekaar:
Plaas eers ‘n laag eiervrug (helfte) in ‘n voorbereide oondbak, dan helfte van die maalvleis en dan ⅓ van die witsous. Herhaal die lae (met die oorblywende witsous bo-op).
Sprinkel kaas bo-oor en bak 30 min by 180º C tot goudbruin.
Bedien met slaai.
Resep en foto: Ilze Jacobs