EENVOUDIGE BEESSTERTPOTJIE
My en vroulief se kuier in ons braaikamer het vanaand uitgeloop op ‘n lekkerte wat skrik vir niks. Ek’t vir ons ‘n djeeeerlike beesstert poitjie gemaak, heeltemal anders as die ander een.
- 2 kg beesstert skoongemaak
- 10 klein aartappeltjies
- 1 groot wortel, geskil en in repies gesny
- 2 medium groot uie, grof gekerf
- 100 ml room
- 2 eetlepels suiker
- 2 eetlepels nat knoffel
- 2 teelepels rissievlokkies
- 1 eetlepels “Italian herbs”
- 1 eetlepels sout
- 2 teelepels wit pepeper
- 1 liter water
Verbruin die vleis in ‘n swartpot. Ek sit niks by nie en die vleis is ook nie vooraf gestoom of niks nie.
Voeg die uie by en braai nog ‘n klein rukkie. Voeg 500 ml water of ek’t sommer oorskiet sodawater gebruik by. Laat kook vir omtrent 2 ure. Maak die pot so min moontlik oop sodat die vleis kans kry om lekker sag te kan stoom, onthou dis beesstert en van die taaiste vleise aan ‘n bees.
Voeg die wortel en aartappels by asook alle speserye. Laat prut vir omtrent 45 minute tot die groente sag is.
Hou die watervlak dop en vul aan met water of in my geval het ek oorskiet sodawater.
Voeg die room by en prut vir 20 minute. Ek’t tot op hierdie stadium nog nie my pot geroer nie, behalwe net na die uie bygevoeg is.
Ons het dit geniet op ‘n bed van heerlike kapokaartappels en dit was uit die boeke lekker.
Daai vleissies was so sag as die vurk nader kom dan val dit van die been af en lê klaar reg om gesteek te word. Hmmmm.
Resep en foto: Gideon Louw