DURBAN MASALAMENGSEL
- 100 ml sonneblom olie
- 2 naeltjies
- 1 lourierblaar
- 3 kaneel stokkies
- 1 teelepel fennel sade
- ¼ teelepel kardamyn saad, uit die doppies gehaal
Verhit die olie net tot medium hitte. As hitte te hoog is, gaan speserye brand voor geur opgeneem is deur die olie. Voeg die speserye by en roer kort kort vir 5 – 10 minute. Haal van hitte af en laat staan om af te koel en verder geur op te neem. Giet deur ‘n sif om heel speserye te verwyder.
Behou olie vir die volgende stap.
1 – 2 groot uie, opgesny – roer braai in die gegeurde olie oor medium hitte tot uie sag is en begin bruin word. Moenie laat brand nie. Hoe langer die uie braai, hoe meer geur. Verlaag die hitte en voeg die volgende by en roer braai net tot jy die reuk van die bestanddele kan ruik (pasop vir brand)
- 2 teelepels gerasperde knoffel
- 2 teelepels gerasperde gemmer
- ¼ teelepel borriepoeier
- 4 eetlepels Masala
- 1 eetlepel Garam Masala (of ipv die 2 masalas, gebruik Rajah Kerrie poeier mild en hot)
- 1 – 2 tamaties, in blokkies gesny
- 1 eetlepel tamatie pasta
- Ekstra:
- 500 g vleis in blokkies gesny – skaap/bees/hoender
- 2 teelepels sout
- vars kerrieblare, opsioneel
- aartappels in blokkies, hoeveelheid soos verkies
Voeg die vleisblokkies en sout by saam met ‘n bietjie water indien nodig en prut met deksel op tot vleis sag en geurig is. Indien nodig, voeg klein bietjies water by om aanbrand te verhoed.
Indien vars kerrieblare gekry kan word, voeg by op hierdie stadium, anders kan dit uitgelos word. Voeg ook nou aartappels in blokkies by met genoeg water om dit gaar te prut.
Bedien met rys, opgesnyde piesang en poppadoms of as Bunny Chow.
Nota:
Jy kan natuurlik nog chillies by sit as jy intense warm kerrie soek. Ek is ook ‘n groot aanhanger van steranys en komyn en sal gewoonlik dit ook addisioneel byvoeg.
Ek sit deesdae ook ‘n paar steranys en komyn sade saam met die oorspronklike heel speserye in die olie. Ek haat dit om in heel speserye te byt, daarom laat ek die olie en speserye saam afkoel vir ‘n uur of meer na ek dit verhit het om die olie te geur en gooi dit dan deur ‘n sif.
Resep van Iris Vorwerk-Müller, aangepas en geplaas deur Petro Borchard
Foto: Petro Borchard