DONKER SJOKOLADEKOEK
- 500 ml suiker
- 500 ml koekmeel
- 200 ml kakao
- 10 ml koeksoda
- 5 ml bakpoeier
- 5 ml sout
- 2 eiers
- 250 ml karringmelk
- 250 ml sterk swart koffie, kamertemperatuur
- 125 ml sonneblom olie
- 5 ml vanilla geursel
- 5 ml karamel geursel (gebruik 10 ml vanilla geursel as jy nie karamel het nie)
Verhit oond tot 180°C.
Smeer 2 koekpanne (23 cm) met botter en besprinkle met meel.
Sif al die droë bestanddele saam in ‘n mengbak.
Voeg die res van die bestanddele by en klits so 2 minute. Skraap die kante en bodem om seker te maak alles word saam gemeng. Die beslag is baie loperig!
Skep die beslag in die 2 panne en bak vir 35 – 40 minute totdat ‘n tandestokkie skoon uitkom.
Haal uit die oond en verkoel 10 minute in die panne. Keer uit op draad rakkies en verkoel heeltemal.
- Versiersel:
- 250 g botter, kamertemperatuur
- 5 x 250 ml versiersuiker
- 125 ml kakao
- 2.5 ml sout
- 10 ml vanilla geursel
- ± 100 ml – 125 ml sterk swart koffie, kamertemperatuur
Sif die versiersuiker, kakao en sout saam.
Voeg die vanilla by die koffie.
Verroom die botter. Voeg om die beurt so koppie van die suikermengsel en bietjie van die koffiemengsel by die botter en klits goed. Hou bietjie van die koffie terug – wanneer al die suikermengsel bygevoeg is, kan jy nog koffie byvoeg as dit nog te dik is. Oppas vir te loperig!
Smeer versiersel tussen die koeklae, bo-op en aan die kante. Versier soos jy wil!
Foto’s en resep aangepas deur Debbie Edwards
Foto 2: ‘n Vriendin se dogter verjaar vandag, en wou vreeslik graag ‘n Billie Eilish koek hê. Toe maak ek so… Ek het dié koek gebak, met die sjokolade versiersel tussen die lae. Toe botter versiersel groen gekleur en swart fondant uitgesny vir dekorasie.
Foto 3: Ek speel nou lekker met dié resep! Hierdie een was vir ‘n tiener seun. Baie KitKat stafies en die VSA se Smarties (M&Ms).