CROQUE MENEER MET TUISGEMAAKTE MOSTERD
Valentynsdag ontbyt vir my liefie.
- Witsous:
- 3 eetlepels botter
- 3 eetlepels koekmeel
- 350 ml melk
- knypie sout, growwe peper en neutmuskaat
- 1 koppie Cheddar kaas, gerasper
- Vulsel:
- 9 sny brood
- soetsuur mosterd (self gemaak – resep onderaan)
- ham
- Dijon mosterd
- gekerfde biltong
- gerasperde Cheddar kaas vir afronding
Witsous:
Smelt die botter in ‘n potjie op die stoof, roer die meel by en meng deur. Giet die melk geleidelik by die bottermengsel en roer aanhoudend om te verhoed dat klonte vorm.
Voeg die sout, peper en neutmuskaat by die melkmengsel en roer deur.
Voeg die kaas by die melkmengsel, roer deur en laat die mengsel prut vir 10 minute op baie lae hitte totdat die sous verdik en die meel gaar is. Roer af en toe.
Samestelling:
Rooster intussen die snye brood.
Plaas drie snye brood effens uitmekaar op ‘n oondpan.
Smeer ‘n laag soetsuur mosterd op die eerste laag brood.
Pak skywe ham op elke sny bo-op die mosterd.
Plaas ‘n sny roosterbrood bo-op die ham op elke broodjie en smeer die tweede sny brood met Dijon mosterd.
Pak gesnyde biltong bo-op die Dijon mosterd en skep ‘n bietjie van die kaassous bo-oor die biltong.
Plaas die derde sny roosterbrood bo-op die sous en giet die res van die sous oor die laaste sny brood.
Sprinkel die gerasperde Cheddar oor die sous en plaas die oondpan met die broodjies onder die rooster element in die oond en rooster die broodjies totdat die kaas gesmelt en goudbruin is.
MY TUISGEMAAK MOSTERD
- 2 blikke kondensmelk
- 2 koppies asyn
- 4 eetlepels Engelse mosterdpoeier
Meng al die bestanddele goed saam.
Bottel die sous in gesteriliseerde bottels of flesse.
Plaas die bottels in die yskas.
Dit is heerlik wanneer dit eers oornag gestaan het in die yskas, dan het al die geure kans gekry om mekaar te groet.
Dis heerlik saam met koue vleis, frikkadelle of op ‘n toebroodjie!
Resep en foto: Charleen Nieuwenhuizen