CHRISTELLE SE MAALVLEISPASTEI
- Vulsel:
- ± 800 g beesmaalvleis
- 2 medium uie, opgekerf
- 3 medium wortels, fyn blokkies gesny
- 2 eetlepels bruinasyn
- sout en peper, na smaak
- knoffelvlokkies, na smaak
- bietjie olie om alles in te braai
Braai bogenoemde saam oor matige hitte in ‘n medium grootte pan, tot alles mooi bruin en gaar is.
- 3 eetlepels bruinuie soppoeier, aangemaak met bietjie koue water
- 1 rol skilferkorsdeeg (puff pastry – hou verkoel in yskas)
- 1 eier, geklits en Aromat vir smeer bo-op deeg
Voeg die soppoeier laaste by en hou dop dat die mengsel in die pan nie brand nie. Dit moet nie te veel sous bevat nie en net effens gebind wees (deur die soppoeier). Proe dat die mengsel nie te sout is nie of voeg ‘n klein bietjie water by en laat weer wegkook. Laat die vulsels heeltemal afkoel.
Voorverhit die oond tot 180 ºC.
Terwyl die vulsel afkoel, neem twee vierkantige aluminumbakkies (of ‘n oondvaste bak van jou keuse).
Sny die rol gekoopte deeg in twee. Rol elke deel deeg uit op ‘n meelbestrooide oppervlak, sodat dit twee vierkante vorm (onder- en bolaag deeg vir elke bakkie, maw. jy gaan 4 vierkante deeg hê)
Voer elke bakkie met ‘n onderlaag deeg uit, druk effens vas en skep die koue vulsel in. Bedek met die boonste laag deeg en druk die kante mooi vas (gebruik ‘n vurk dit werk goed).
Smeer die bolaag met eier sodat dit mooi seël en ‘n mooi gladde glans verseker sodra dit gaar is.
Strooi aromat liggies oor die eierbolaag (pasop vir te veel sout).
Plaas die twee aluminum gevulde oondbakkies op ‘n plat bakplaat.
Nota:
Die warm bakplaat onder sal help dat die deeg nie klam raak onder nie en mooi egalig gaar word. Ek het die elektriese oond se bo en onderste element aangehad en dit het mooi goudbruin gebak bo en onder in die bakkie.
Bak die pasteie tot goudbruin en geniet saam met groente of slaaie van jou keuse.
Een pastei is genoeg vir twee tot drie volwassenes.
Nota:
Die pasteie was selfs ‘n dag of twee daarna nog lekkerder nadat die geure gemeng het. Plaas enige pastei wat oorbly in die yskas nadat dit afgekoel het, maar skep uit die aluminium bakkies uit en plaas in ‘n plastiese houer.
Indien jy die pasteie wil vries, maak die pasteie klaar tot net voor jy dit bak, vries dit dan en bak eers wanneer jy dit wil gebruik.
Resep en foto: Christelle van Rooyen