BROODJIE IN 20 MINUTE
Ek het hierdie broodjie op die internet gesien en so bietjie aangepas, maar moet sê in alle eerlikheid, dit lyk glad nie soos hulle foto nie, maar is regtig ‘n lekker broodjie as jy vinnig iets wil maak om saam met sop of iets wil bedien. Ek het dit sommer in rolletjies gemaak, dis 6 klein rolletjies wat mens selfs soos skons sou kon bedien, indien verkies.
- 2 koppies koekmeel
- ¼ koppie semels, opsioneel
- 1 eetlepel bakpoeier
- ½ teelepel sout
- 1 eetlepel suiker
- ¾ koppie warm melk
- 2 eetlepels gesmelte botter
- bietjie ekstra warm melk indien nodig (50 ml)
Stel die oond op 190 °C en spuit ‘n klein broodpannetjie.
In ‘n groot bak, meng die meel, bakpoeier, sout en suiker saam.
Verhit die melk en botter saam, maar moenie kook nie, botter moet net gesmelt wees.
Voeg die melkmengsel by die meelmengsel.
Roer tot ‘n sagte deeg vorm.
Keer uit op ‘n oppervlak liggies met meel bestrooi en knie die deeg vir 1 – 2 minute.
Indien die deeg te droog is, sit die ekstra melk lepelgewys by tot die deeg net lekker elasties is, nie te styf of te slap nie.
Vorm in ‘n lang broodjie of verdeel in rolle, en plaas in die voorbereide pan.
Bak vir 15 – 18 minute vir rolletjies en langer vir ‘n broodjie of tot gaar toets.
Indien jy dit donker bo-op wil hê, kan jy bietjie botter opsmeer en nog ‘n rukkie in die oond sit, maar moenie te lank bak nie.
Sit warm voor met botter, konfyt of jou gunsteling smeer.
Resep getoets en aangepas deur Rina Kleinhans