Your Recipe Blog

BROODDEEG VIR ROLLETJIES MET VARIASIES

BROODDEEG VIR ROLLETJIES MET VARIASIES

  • 1 teelepel suiker
  • ½ teelepel sout
  • 1 pakkie kitsgis
  • 2 koppies koekmeel
  • 2 koppies bruismeel
  • 600 ml melk
  • 100 g botter of margarien
  • 100 ml kookolie

Plaas die suiker, sout en gis in ‘n diep mengbak en meng dit saam.
Voeg die koekmeel en bruismeel by en meng deur.
Verhit die melk en botter of margarien tot louwarm, die vingers moet nie brand nie.
Voeg die kookolie by die melkmengsel en roer deur.
Meng die nat bestanddele stadig by die droë bestanddele en knie goed deur.
Bedek die deeg in die mengbak en laat dit rus vir ongeveer 1 uur.
Vorm bolletjies so groot na eie keuse, pak dit in ‘n voorbereide oondbak.
Bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir ongeveer 15 tot 20 minute of tot goudbruin.

Soutbroodrolletjies:
Ek maak dit in happiegrootte vorms.
Gebruik dieselfde brooddeegresep, breek stukkies deeg af en vorm in balletjies, plaas dit langs mekaar op ‘n voorbereide bakplaat.
Maak ‘n mengsel van robot soetrissies, gesnyde uie en knippie gemengde kruie.
Smeer geklitste eier bo-op die deegballetjies en sprinkel die soetrissiemengsel oor die balletjies.
Bak die deegballetjies in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 15 tot 20 minute.
Haal uit die oond en smeer dadelik soetrissiesous bo-oor die rolletjies.
Baie heerlik.

Platbroodjies:
Gebruik dieselfde brooddeegresep, breek groter balletjies af en druk dit plat op ‘n oppervlak, smeer die hande met meel, sodat dit makliker kan hanteer.
Ek maak dit gewoonlik die grootte van ‘n piering.
Prik die bokant van die deeg met ‘n vurk en smeer liggies met ‘n geklitste eier.
Plaas die sirkels op ‘n voorbereide bakplaat en bak in ‘n voorverhitte oond by 180ºC vir 7 minute.
Smeer dit met ‘n knoffel- en kruiesmeersel.

  • Knoffel- en kruiesmeersel
  • 100 g botter
  • 1 teelepel knoffelpoeier
  • ½ teelepel vars knoffel, fyn gedruk
  • ½ teelepel gemengde kruie
  • bietjie sout na smaak

Meng die bestanddele goed en smeer oor die warm platbrode.

  • Hoendervulsel vir broodrolletjies:
  • 3 hoenderborsies, gaar gestoom en fyn gekap
  • 1 ui, fyn gekap
  • 3 teelepels braaivleisspeserye
  • ½ teelepel droë rissiepoeier
  • paar vars koljanderblare, fyn gekap

Meng die bestanddele goed.
Wanneer die brooddeeg klaar gerys het, breek stukkies deeg af en maak dit plat in die handpalm.
Plaas 1 teelepel van die hoendermengsel in die deeg en vou die deeg om die vulsel in ‘n balletjie.
Pak die gevulde balletjies in ‘n oondbak, smeer die balletjies met ‘n geklitste eier en strooi saadjies oor.
Ek kry ongeveer 30 balletjies uit die resep.
Bak die balletjies in ‘n voorverhitte oond van 180ºC vir ongeveer 15 tot 20 minute tot goudbruin bo op.

Resep, idees en fotos: Kashiefa Sulaiman Abrahams

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page