Your Recipe Blog

BROCCOLI EN SPEK MET BOSBESSIESOUS (6)

BROCCOLI EN SPEK MET BOSBESSIESOUS

Genoeg vir 4 persone as ʼn voorgereg of twee persone as ʼn ete. Die aartappels en uie kan weggelaat word.)
Die Facebook groep “Food lovers recipes” bereik ʼn ledetal van 200 000 en besluit om dit te vier met ʼn kompetisie. ʼn Baie beperkte aantal items word gegee waaruit ʼn gereg gemaak moet word. Tot my groot konsternasie is daar nie suurlemoene ingesluit nie.
Die groente is ʼn keuse tussen broccoli, aspersies en Brusselse spruite. Laasgenoemde het ek nie eens as ʼn honger koshuiskind geëet nie – nie eens as dit blou gekook is en in vaal water gedryf het nie.
Ek sien die allermooiste aspersies by my groentewinkel in Pretoria, maar Betta val en breek haar neus en ek moet die pad vat Bloemfontein toe. Padlangs bedink ek toe planne met die bestanddele. Iewers in die grasvlaktes kry ek ʼn bosbessie oomblik. En in Bloemfontein het nie eens WW ʼn bossie aspersies nie, maar wel “tender stem” broccoli. Ek kon ‘n paar elemente van die aspersie konkoksie behou, maar moes nuwe pasmaats vir die geure uitdink.
Nou ja, soos julle weet is ek ʼn lui kombuiskabouter – ek hou nie van baie werk nie en veral nie van baie skottelgoed nie, maar soms, vir ʼn baie spesiale geleentheid, maak ek ʼn uitsondering. 200 000 lede en ʼn groep wat uitmuntend geadministreer word, verdien ʼn dit.
  • 400 g broccoli – “tender stem”
  • 250 g spek (streaky bacon)
  • 1 koppie bosbessies
  • 300 g klein aartappels
  • 8 stingels vars tiemie of 3 teelepels gedroogde tiemie
  • 1 ui
  • sout
  • ¼ teelepel witpeper
  • 4 korrels swartpeper
  • 3 korrels wonderpeper (All spice)
  • ¼ teelepel neutmuskaat
  • 1 eetlepel kookolie
  • 2 eetlepels botter
  • water
  • ysblokkies
Bosbessie sous:
Week een koppie bosbessies oornag in twee koppies water.
Bring bosbessies met twee stingels vars tiemie (1 teel gedroogde tiemie), swartpeper, neutmuskaat en wonderpeper en knippie sout tot kookpunt. Verlaag hitte en laat afkook tot ongeveer ʼn derde van die vloeistof oorbly. Haal die heel peperkorrels en tiemie takkie uit en verpulp tot ʼn sous.
Broccoli:
Sny die blompunte versigtig af. Kook water in ʼn pot met 2 takkies vars tiemie of 1 teel gedroogde tiemie. Kook blompunte vir 3 – 5 minute, haal uit en koel dit dadelik in yswater af. Dit behou die kleur. Haal uit koue water en laat afdroog op kombuispapier. Hou eenkant. Moenie die water waarin die blompunte gekook is weggooi nie.
Sny die stingels in klein blokkies, ongeveer 5mm x 5mm. Gooi die blokkies in ʼn bakkie en strooi 1 teelepel sout oor. Roer deur en laat staan vir ongeveer een uur. Druk die soutwater uit, spoel af en kook in dieselfde tiemie water waarin die blomme gekook het vir 3 tot 5 minute – skep uit en laat in yswater afkoel. Hou eenkant.
Net voor opdiening – smelt die botter in ʼn pan en braai die broccoli stingels bros.
Spek:
Sny die spek in blokkies, strooi fyn wit peper oor en braai bros – hou die vet wat uitbraai.
Aartappels:
Was die aartappels mooi skoon en kook met skil en al. Sit 2 stingels vars tiemie (1 teelepel gedroogde) en 1 teelepel sout in die water. Haal uit en laat droog word. Sny in die lengte deur en braai goudbuin in dieselfde pan/vet waarin die spek gebraai het. Hou warm.
Uie:
Sny uie in ringe en die ringe in blokkies van ongeveer 5mm X 5mm. Strooi sout oor en 1 eetlepel kookolie. Maak die uieblokkies versigtig onder die roosterelement van die oond bros. As jy ʼn “air fryer” het – sal dit hier baie handig te pas kom. Die uie moet eers saggies gaar word en dan uitdroog. Dit moet krakerig wees. Hou eenkant.
Opdien:
Smeer van die bosbessiesous (kamertemperatuur) op elke bord, skep broccoli, aartappels en spek in, strooi laaste die uie en broccoli blokkies oor.

Lekker eet en sterkte met die kombuis se opruim…

Notas:
Broccoli se tekstuur het nie dieselde weerstand as blomkool nie – dit kook maklik pap en vaal. Werk baie versigtig. Dit is ook hoekom die twee dele – sagter blompunte en harder stingels in hierdie resep geskei en afsonderlik gaargemaak word.

Ek hou daarvan as een geur deur die resep getrek word – in hierdie geval was dit die tiemie – dit kom in die bosbessie sous, en in al die water waarin die broccoli en aartappels gekook word.
Spek het sout – sit bietjie peper by – dit maak regtig ʼn verskil.

Foto en resep: Tosca de Villiers

One Review

  1. Frikkie Jones

    Oulike resep en beslis iets wat ek vir die VLU sal inskryf .

    Ek hou van die cranberry relish.

    Daar is baie stappe in die resep wat die beginner-kok kan oorweldig

    Oulike resep wat baie lekker kan wees

    Star

Leave a Review

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

1 2 3 4 5

You cannot copy content of this page