BOOMTAMATIE BLATJANG
Baie mense hou nie van boomtamaties nie tot hulle die blatjang probeer. As jou boom ‘n oorvloed boomtamaties dra, waarom nie probeer om blatjang te maak nie? Jy mag dalk ‘n nuwe voorliefde ontdek waarvan jy nooit geweet het nie en die resepte is regtig maklik. (Dit kan dalk ook ‘n oulike geskenk uitmaak – tuisgemaak.)
- 30 – 50 boomtamaties
- 1 kg bruinsuiker
- 1 koppie asyn
- 4 knoffel huisies, opsioneel
- 4 appels (Granny Smith)
- 3 uie
- rooi pepper
- sout en peper na smaak
Skil en sny die uie, appels en tamaties in blokkies. Plaas in groot pot saam met al die ander bestanddele en plaas op stoofplaat. Roer gereeld terwyl dit kook op matige hitte tot dit die regte dikte bereik het.
Bottel warm in voorbereide warm bottels, seël dadelik.
Wenk:
Blatjang resepte kan maklik aangepas word. Proe dus of jou speserye reg is volgens jou spesifieke smaak. As jy hou van meer sout, kan jy bysit. As jy hou van bietjie gemmer in jou blatjang, kan jy dit ook byvoeg.
As jy growwe blatjang verkies, hou die vrugte in blokkies gesny, maar as jy fyn blatjang verkies, is dit raadsaam om die vrugte vooraf in ‘n voedselverwerker te plaas tot dit reg is volgens jou standaard.
FOTO en aanpassings: Rina Kleinhans
- Vars gemmer na smaak
- ½ koppie Mrs Ball’s blatjang
- 1 eetlepel Maizena, aangemaak met bietjie water
- 1 eetlepel Balsamiese asyn
Ek het vandag van die klein tamaties sommer blatjang gemaak, want ek het so baie. Ek het hierdie resep so bietjie aangepas, ek het vars gemmer bygesit en ook Mrs Ball’s blatjang en deurgekook.
Pas maar suiker, sout, peper aan na smaak.
Ek het met xylitol gekook, en alles fyn gemaak in die voedselverwerker voor ek gekook het, want die skilletjies van die tamaties is bietjie hard. Ek het ook balamiese asyn ingesit vir ekstra smaak.