BOERBESKUIT VAN AARTAPPELSUURDEEG
- 330 ml (1⅓ koppie) aartappelsuurdeeg plantjie
- 170 g (⅓ van 500 g) botter by kamertemperatuur
- 1 eier
- 100 ml water
- 250 ml (1 koppie) suiker
- 1 kg (7 koppies) koekmeel
- 160 ml (⅔ koppie) Cremora
- 1 eetlepel (15 ml) sout
Voeg aartappelsuurdeeg plantjie, botter, eier, water en suiker saam in menger se bak, meng deur met deeghaak tot effens gemeng.
Voeg die res van die bestanddele by en meng stadig tot dit bymekaar kom.
Knië op medium spoed vir ongeveer 10 min tot die deeg los van die bodem van die bak kom.
Smeer die deeg met bietjie botter en bedek bak en laat rys op ‘n warm plek tot die deeg hoog uitgerys het (± 4 ure).
Knieë af en bedek weer.
Laat weer rys op ‘n warm plek.
Verdeel in panne en laat rys op ‘n warm plek.
Hoe langer en stadiger die beskuit rys, hoe fyner tekstuur.
Maak net seker die deeg kry nie ‘koud’ nie.
Bak by 160°C vir 1¼ uur tot gaar.
Moenie haastig wees nie.
Keer panne uit en smeer die koppe met soet swart koffie.
Koel heeltemal af voor jy dit breek/sny.
Droog uit by 80°C vir 4 – 6 ure.
Met die oonddeur op ‘n skrefie oop.
Koel heeltemal af voor jy dit in lugdigte houers pak.
Resep en foto: Frikkie Jones
Hi Frikkie
Ek bak al vir jare boerbeskuit met my eie insuur aartappelsuurdeeg, soos my skoonma my nog geleer het. So paar maande terug het ek vir my ‘n elektriese menger gekoop en die deeg daarmee begin knie. Ek het nou al alles probeer, sodra ek die menger gebruik, wil my deeg nie rys nie en indien dit wel rys, is dit sommer sulke taai beskuit, glad nie soos ek dit ken nie. Ek het ‘n Swiss Ankarsrum gekoop.Enige resep met kitssuurdeeg of bakpoeier, het geen probleem nie, maar sodra ek die nat aartappelsuurdeeg gebruik wat ek self oornag insuur, werk dit nie. Het jy dalk raad?