BOBOTIE VIR VRIES
Ons is net 2 in die huis. Vir die 2de keer het ek nou al die bobotie resep gemaak (hierdie keer dubbeld) en dit werk baie lekker. Ek vries die tunablikkies oornag so met die bobotie in en keer dit die volgende dag uit en verpak in ‘n plastiekbak (met plastiek tussenin) in die vrieskas. Dit werk baie lekker om sommer net vir ons elkeen een uit te haal soos ons nodig kry.
(hierdie is die enkel resep)
- ± ¾ koppie hawermout (oats)
- 120 ml melk (2 x 60 ml )
- 1 groot ui, fyn gekap
- 2 opgehoopte teelepels knoffelvlokkies in olie
- 1 eetlepel appelkooskonfyt
- 25 ml kookolie
- 30 ml witasyn
- 15 ml kerriepoeier, na smaak
- 15 ml suiker
- 5 ml sout
- 5 ml borrie
- gemaalde peper na smaak
- 500 g maalvleis
- 2 eiers
- 1 groot handvol pitlose rosyne of na smaak
- 1 eetlepel blatjang of meer
- 1 eetlepel suurlemoensap
- lourierblaar, opsioneel
Voorverhit oond tot 180°C.
Braai die ui en knoffel in die kookolie tot ligbruin.
Meng asyn, kerriepoeier, borrie, appelkooskonfyt, suiker, sout en peper saam en roer by. Meng die oats by.
Voeg die maalvleis by en meng deur.
Meng een van die eiers en 60 ml van die melk saam en meng deeglik by.
Voeg blatjang, suurlemoensap en rosyne by en laat die mengsel ‘n rukkie kook, roer gereeld.
Spuit so ± 5 tuna blikkies of ‘n oondbak met “spray and cook”, kyk maar na die hoeveelheid van jou klaar produk vir die grootte.
Skep vleismengsel in die blikkies of oondbak en plaas vir ‘n paar min in oond.
Klits die ander eier en 60 ml melk saam. Giet oor die bobotie. Sit lourierblare by.
Bak vir ± 30 min op 180°C.
Sit warm voor saam met rys.
Notas:
Ek gebruik nie brood/melk in my maalvleis nie, maar sommer net oats (vir dubbeld net 1 koppie oats), maar jy is welkom. Dink ook nie ek het presies by die melk hoeveelheid gehou nie.
Ek het resep nou dubbeld gemaak, sal net volgende keer versigtiger wees met die suurlemoensap en/of die asyn se hoeveelheid, want dit het ‘n effe suurder smaak.
Met die dubbel resep maak mens 6 tunablikkies en 1 kleiner opdienbak vir dadelik eet.
Pas jou kerrie aan by hoe sterk jou gesin daarvan hou. Ek het nie die kerrie heeltemal verdubbel nie, seker so 20 ml gebruik.
Resep geplaas deur en foto: Stien Rust