BOBOTIE MET BOEREWORS
- 300 g maalvleis
- 500 g boerewors, waarvan die vleis uit die omhulsels verwyder is
- 1 opgekapte ui
- 2 fyngekapte knoffeltoontjies
- 3 snye brood wat in 1 koppie melk geweek is
- 2 eetlepels kerrie van jou keuse – ek het matige Maleise kerrie gebruik
- 1 eetlepel borrie
- 3 eetlepels asyn
- 3 eetlepels appelkooskonfyt
- 1 eetlepel worchestersous
- 3 lourierblare
- 1 koppie pitlose rosyne
- sout en peper na smaak
- Bolaag:
- 1 koppie melk
- 3 eiers
- 1 teelepel borrie
- ‘n knippie sout
Verhit ‘n klein bietjie olie in ‘n kastrol en braai die uie en knoffel daarin tot die uie gaar is, maar nie verbruin nie.
Voeg die kerrie en borrie by die uie, roer deur en braai saam vir ongeveer 30 sekondes.
Voeg die asyn by, roer deur en daarna die konfyt en die worchestersous wat ook deeglik met die res gemeng word.
Voeg helfte van die maalvleis by en roer deeglik deur die uie mengsel.
Volg dit op met helfte van die worsvleis wat ook deeglik deur geroer word.
Herhaal met die ander helftes van die vleis op dieselfde manier en laat braai tot al die vleis verbruin het.
Druk die brood droog en breek dit in stukkies in die vleismengsel in. Hou die melk wat oorbly eenkant.
Roer die brood deeglik deur die vleis totdat dit behoorlik in die vleis ingemeng is.
Geur met sout en peper na smaak, maar hou in gedagte dat die wors reeds sout bevat.
Roer die rosyntjies deur die mengsel en skep dit oor in ‘n oondbak.
Druk die lourieblare in die vleis in.
Bolaag:
Voeg nog melk by die melk waarin die brood geweek is tot dit 1 koppie vol maak (250 ml).
Klits die eiers deeglik deur die melk en voeg die borrie daarby.
Geur met ‘n knippie sout en giet oor die vleismengsel.
Bak by 180ºC vir ongeveer 35 minute of tot die eiermengsel gestol het.
Resep geplaas deur Adam Cloete
Foto: Adam Cloete